
Van kamera tot kosmos
Fotografeer die naghemel by Taalmonument
Fotografie-entoesiaste wat reeds oor ’n basiese kennis van hul kamera beskik, kry op SATERDAG 17 OKTOBER 2026 die uitsonderlike geleentheid om hul vaardighede verder te ontwikkel tydens die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se gevorderde fotografiekursus oor stersirkels. Dis boonop ’n unieke gebeurtenis omdat deelnemers eksklusiewe toegang tot die erfenisterrein ná-ure sal geniet.
Die kursus word aangebied deur ervare fotograaf Peter Haarhoff en is vir deelnemers wat reeds vertroud is met hul kamera en graag hul kennis na die volgende vlak wil neem. Dit kombineer teorie en praktyk met ’n spesifieke fokus op sterre en sirkumpolêre sterre – sterre wat vanaf ’n sekere breedtegraad op Aarde nooit onder die horison verdwyn nie vanweë hul nabyheid aan een van die hemelpole.
Benewens tegniese fotografievaardighede word aandag gegee aan onder meer die keuse van toepaslike toerusting vir verskillende fotografiestyle, die hantering van meer komplekse ligtoestande en professionele aspekte van fotografie. Die unieke ligging van die Taalmonument bied die ideale agtergrond vir deelnemers om hul kennis prakties toe te pas en die naghemel deur hul kameralens vas te lê.
Deelnemers moet ’n DSLR-kamera bring met al die nodige komponente soos ’n SD kaart, driepoot en ’n afstandbeheerde sluiter (meganies of elektronies).
🎟️ + ℹ️ Die kursus vind op 17 Oktober by die monument se raadsaal en parkering plaas vanaf 16:00 tot 22:00. Dit kos slegs R595, wat ’n gratis besoek aan die monument asook ligte verversings insluit. Die teoretiese sessie vind vanaf 16:30 tot 19:30 plaas waarna deelnemers hul eie aandete kan geniet voordat die praktiese sessie vanaf 20:00 tot 22:00 geskied. Plekke is beperk, dus bespreek asseblief voor 16 Oktober via kommunikasie@taalmuseum.co.za of 076 017 6026 (WA) en voltooi ’n kort aanlynvorm hier.
ℹ️ Volg Taalmonument en Taalmuseum se unieke geleenthede, konserte en kursusse via
WhatsApp Instagram Facebook Nuusbrief Taalmuseum.co.za/wat-gebeur
Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in talle tale oor die simboliek van die monument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
👉 Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin – sluit onbeperkte toegang tot die ATM, bistro, staproetes en Volmaanpieknieks in. Bel 021 863 0543.


