Wat is Afrikaans?
Sowat 7,2 miljoen mense praat die Suider-Afrikaanse taal, Afrikaans, as ’n eerste taal, en sowat 10 miljoen as ’n tweede of derde taal. Die naam beteken van of behorende tot Afrika. Weens die diverse sprekers en vormingsinvloede, ook rakende die woordordepatrone en uitsprake, is die klank van dié inheemse taal meer Afrikaans as Europees. Tog bied kennis van Afrikaans sprekers ook toegang tot Noordwes-Europese tale.
Dit word alom beskou as een van die maklikste tale om te leer danksy onder meer ’n stroombelynde, moderne grammatika en gendervrye naamwoorde. Boonop is dit hoogs beskrywend, idiomaties en veerkragtig met oorspronklike, nuwe woorde wat jaarliks tot die ryk woordeskat toegevoeg word.
GISTER
Afrikaans se boeiende geskiedenis strek terug na die laat 1500’s toe Nederlandse seelui met die inheemse Khoekhoen begin handel dryf het. Met die vestiging van ’n VOC-verversingspos in 1652 het dié kontaktaal verder ontwikkel, hoofsaaklik danksy die pogings van inheemse Afrikane en slaafgemaaktes uit Suidoos-Asië en Afrika om met mekaar en Europese setlaars te kommunikeer. Laasgenoemde groep, wat talle Europese tale gepraat het, het ook toenemend dié taal as spreektaal begin gebruik en vervorm terwyl Nederlands as amptelike taal aanhou geld het.
In die 1700’s en 1800’s het verskillende Afrikaanse variëteite na groter dele van Suider-Afrika versprei en is dit verder verryk deur ander Afrikatale. Die koloniale tale Nederlands, Engels en Duits was steeds die enigste amptelike kommunikasiemiddels.
Die eerste geskrewe weergawes van Afrikaans het in die vroeë 1800’s in Genadendal se Khoi-Afrikaans (in Romeinse skrif), in die middel-1800’s in Kaapstad se Maleis/Moesliem-Afrikaans (in Arabiese skrif) en die laat-1800’s in die Paarl se Boere-Afrikaans (in Romeinse skrif) verskyn. In al hierdie gevalle het godsdiens as aansporing gedien om die gesproke taal verder te ontwikkel, maar dit was geografies en kultureel beperk.
Ná afloop van die vernietigende Suid-Afrikaanse oorlog (1899-1902) het ’n ontluikende wit Afrikanernasionalisme die taal probeer kaap vir korttermyn politieke doelwitte. Die stryd is teen Nederlands en Engels gevoer voordat Afrikaans uiteindelik in 1925 as ’n amptelike taal aanvaar is. Hoewel wit moedertaalsprekers ’n minderheid van Afrikaanses was (en is), het hul politieke en ekonomiese mag toenemend veroorsaak dat die taal se diverse sprekers en komvandaan-verhale vir dekades grootliks geïgnoreer is, ook wat die standaardvariëteit van die taal betref.
In die vroeë 1900’s het Afrikaans snel ontwikkel – literêr, akademies en staatkundig – hoewel sensuur en rassisme, veral ná die Nasionale Party se oorwinning in 1948, die taal se kulturele groei gestriem en toenemend Suider-Afrikane van die taal vervreem het. Die Soweto-opstande van 1976 was ’n keerpunt wat uiteindelik tot die einde van apartheid en die bevryding van Suid-Afrikaners (en Afrikaans) gelei het.
VANDAG
Sedert 1994 beleef die taal verskeie uitdagings en suksesse. Aan die een kant word Afrikaans as akademiese, ekonomiese en politieke taal saam met die ander amptelike, inheemse tale op die agtergrond geskuif ondanks die land se verbintenis tot gelykheid en veeltaligheid. Die taal het wel ’n groot kuber- en mediateenwoordigheid en op die skeppende front beleef Afrikaans se tientalle variëteite ’n opbloei in terme van musiek, rolprente, die literêre kanon en kunstefeeste. Dit volg in die voetspore van die 1960’s se Sestigers – ’n Afrikaanse literêre weerstandsbeweging met onder andere Bartho Smit en Adam Small wat sekularisasie, moderniteit, rasseverdraagsaamheid en seksuele vryheid omhels het – asook bewegings soos Voëlvry en Afrikaaps.
MÔRE
Hoewel een van Afrika se jongste tale, beskou leidende pan-Afrikaniste Afrikaans se groei as ’n goeie voorbeeld van linguistiese dekolonialisering as deel van die groter uitdaging om die kontinent se inheemse kulture erkenning te gee. Wat in die guns van Afrikaans (soms as Suider-Afrika se Swahili beskryf) tel, is dat dit na die kontinent vernoem en die mees veelrassige streeksmoedertaal is. Baie vordering is al met die herstandaardisering en depolitisering van die taal – asook versoening onder Afrikaanses onderling en met ander landgenote – gemaak. Hoewel dit op sosiale en kulturele vlak sigbaar is, kort dit op ’n politieke vlak erkenning.
MEER?
Die Afrikaans van die Kaapse Moslems, Achmat Davids, verwerk deur Hein Willemse en Suleman Dangor, sbafrikaans.co.za – 2019
Die storie van Afrikaans – uit Europa en van Afrika, WAM Carstens en EH Raidt – Deel 1 2017 & Deel 2 2018
So kry ons Afrikaans, Christo van Rensburg – 2012
Roots of Afrikaans: Selected writings of Hans den Besten, Edited by Ton van der Wouden – 2012
Die klassifikasie van Afrikaans, Ernst Kotzé, litnet.co.za – 2018
Die algemene demografie van Afrikaans, Afrikaanse Taalraad en Solidariteit Navorsingsinstituut, taalmuseum.co.za – 2022
af.wikipedia.org/wiki/Afrikaans