Oor ons

Oor ons

Die Afrikaanse Taalmonument

“Afrikaans is soos die Garieprivier met talle strome wat na die hoofstroom loop. Dit is belangrik om al hierdie strome te versterk om Afrikaans as ’n inklusiewe taal te bevestig.”  – ATM-direkteur Michael Jonas, na aanleiding van Neville Alexander, taalaktivis en oudstryder teen apartheid.

Dié unieke beeldhouwerk op die skilderagtige Paarlberg vier en verbeeld die oorsprong van Afrikaans – een van die wêreld se jongste tale – danksy die vermenging van Afrikane, Suidoos-Asiërs en Europeërs. Geïnspireer deur die natuurlike omgewing en Afrikaanse skrywers se beskrywings van die taal, het die argitek ’n treffende, simboliekbelaaide struktuur ontwerp wat organies by die inheemse fynbosomgewing inskakel. Water, rots en diverse taalwortels vloei ineen om ’n ewiggroeiende taalboom, stewig gevestig in Afrika, te vorm.

Hoewel Afrikaans (van/behorende tot Afrika) eeue gelede oor groot dele van Suider-Afrika gevorm is, het belangrike gebeure ter wille van die taal se formele erkenning in die Paarl afgespeel. Vandag dien die Taalmonument as ’n sigbare baken van hoop vir die ontwikkeling en erkenning van álle Afrikatale. Hierdie Pan-Afrikaanse instelling bevorder beter verhoudinge tussen Afrikaanses onderling en tussen Afrikaans en ander inheemse tale danksy inklusiewe opvoedkundige programme en multikulturele aktiwiteite.

Ervaar dit in lewende lywe, adem die geur van die inheemse flora in en laat jou hande oor die graniet gly. Sien self waarom só baie internasionale TV-tonele hier verfilm word! Die monument bied gereeld fantastiese geleenthede aan, maar almal is welkom om enige tyd ’n piekniek in die pragtige tuine te hou waar speelparke, buitelugspeletjies en ’n bistro ook wink.

Ervaar dit in lewende lywe, adem die geur van die inheemse flora in en laat jou hande oor die graniet gly. Sien self waarom só baie internasionale TV-tonele hier verfilm word! Die monument bied gereeld fantastiese geleenthede aan, maar almal is welkom om enige tyd ’n piekniek in die pragtige tuine te hou waar speelparke, buitelugspeletjies en ’n bistro ook wink.

Oor ons

Die Afrikaanse Taalmuseum

Hoewel die taal eeue gelede oor groot dele van Suider-Afrika gevorm is, het belangrike gebeure ter wille van Afrikaans se formele erkenning in die Paarl afgespeel, veral danksy die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat in 1875 gestig is in dié gerestoureerde, historiese huismuseum.

Die geskiedenis en diversiteit van Afrikaans – een van die planeet se jongste tale, geskep deur Afrikane, Suidoos-Asiërs en Europeërs – word treffend uiteengesit in die talle kontemporêre uitstallings. Sien onder meer die oorspronklike drukpers waarop die eerste Afrikaanse koerant ter wêreld gedruk is! Interaktiewe uitstallings dra verder by tot die uitsonderlike museum. Besoekers kan hul kennis van idiome toets, voorbeelde van die oudste Afrikaans in Arabiese skrif besigtig en die avontuurlike reis van Afrikaanse musiek – van rieldans tot rymklets – beleef.

Daar is ook ’n leeskamer waar navorsers ou dokumente en seldsame Africana-boeke kan raadpleeg. Die Afrikaanse Taalmuseum is ’n Pan-Afrikaanse instelling wat beter verhoudinge tussen Afrikaansprekendes onderling en tussen Afrikaans en ander inheemse tale bevorder danksy inklusiewe opvoedkundige programme en multikulturele aktiwiteite.

Visie, missie en waardes

Ons visie

Om die ATM tot ’n dinamiese en inklusiewe instelling uit te brei wat die taaldiversiteit van Afrikaans binne die konteks van ’n multikulturele samelewing, bevorder.

Ons missiestellings

Om die diversiteit van Afrikaans deur inklusiewe programme en aktiwiteite te bevorder.

Om inligting te digitaliseer om dit beter te bewaar en toegang daartoe te verhoog.

Om ’n omgewing te skep waarin verskillende rolspelers van Afrikaans met mekaar in gesprek kan tree om maatskaplike samehorigheid te bewerkstellig.

Om uit te reik na ander taalgemeenskappe en instellings deur opvoedkundige programme en kulturele aktiwiteite.

Om ‘miskende’ of verplaaste geskiedenisse van Afrikaans na te vors en ’n verskerpte fokus op Afrika-kennisleerstelsels te plaas as deel van ’n groter dekolonialiseringsproses.

Om wedersydse respek en verdraagsaamheid tussen lede van die Afrikaanse taalgemeenskap te bevorder om sodoende ’n sterker gedeelde kulturele identiteit te help skep.

Om die ATM volgens gesonde en deursigtige finansiële en administratiewe beginsels te bestuur wat die instelling as ’n leidende en gerekende rolspeler in die erfenissektor bevestig.

Om Afrikaans se diverse taalerfenis, kultuurhistoriese geboue en erfenisterreine te beskerm en te bewaar.

Om verskeie kulturele groepe deur werkswinkels en programme te bemagtig.

Om die personeel en groter gemeenskap te bemagtig.

Ons doelwit

Die ATM streef na die welstand van Afrikaans binne die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap. In hierdie gees wil ons die taal bevorder en ondersteun, veral onder die jeug en nie-moedertaalsprekers. Ons poog voortdurend om wedersydse respek tussen Afrikaans en ander inheemse tale te bevorder deur onder meer die invloede van die verskillende tale op mekaar te erken.

Ons waardes

Die nastreef van hoë vlakke van integriteit, betroubaarheid, deursigtigheid en professionaliteit in dit wat ons doen.

Om verdraagsaam en respekvol in ons omgang met kulturele groeperinge en ander tale te wees.

Die nastreef van uitnemendheid in ons werksomgewing en in dit wat ons die publiek bied.

Om by te dra tot die bemagtiging van die Suid-Afrikaanse samelewing.

Om skeppend en innoverend te wees in terme van die programme en aktiwiteite wat ons aanbied.

* Visie, missies en waardes in 2017 aanvaar

Ter wille van finansiële deursigtigheid en verantwoordbare bestuur is die jaarverslae, soos aanvaar deur die parlement, hier beskikbaar vir die publiek.