Oorsig & Uitleg

Taalmuseum

Die Afrikaanse Taalmuseum

Die oorspronklike doel van die Afrikaanse Taalmuseum was om sommige van die mense te vereer wat ’n belangrike rol gespeel het om Afrikaans as ’n amptelike skryf- en leestaal erken te kry. Een belangrike groep mense in dié verband was die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat op 14 Augustus 1875 in die huis van Gideon Malherbe, vandag die Taalmuseum, gestig is. Die lewensomstandighede en tydsgees word so getrou moontlik voorgestel sodat besoekers ’n beeld vorm van die pad wat hulle moes loop en die struikelblokke wat hulle moes oorkom.

Verder gee die Museum die ontwikkeling van die taal, sy variëteite en eietydse uitinge weer. Sodoende word dit tuisgebring dat dit ’n lewende, groeiende taal is wat deurgaans in ’n toestand van ontwikkeling en aanpassing by die eietydse wêreld is. Het jy geweet Afrikaans in Arabiese skrif was een van die vroegste vorme van geskrewe Afrikaans? Vind hier uit hoe Abu Bakr Effendi en andere die Arabiese alfabet aangepas het om in Afrikaans te skryf.

Die huis is omstreeks 1860 in die Georgiaanse styl deur Gideon Malherbe, ’n welgestelde sakeman en wynboer van die Paarl, gebou. Die grondvloer is tot ʼn groot mate gerestoureer en ingerig soos dit in 1875 was, terwyl die boonste verdieping die ontwikkeling van Afrikaans en sy verskillende uitinge voorstel. Die vertrekke onder sluit die voorportaal, eetkamer, sitkamer en die Malherbes se slaapkamer in. Die GRA se drukpers is in die kinderkamer waar dit aanvanklik gestaan het.

So ver moontlik is gepoog om die huis met die oorspronklike meubels, ornamente en gebruiksvoorwerpe in te rig. Elders word reproduksies gebruik, soos byvoorbeeld die muurpapier, die stoele om die eetkamertafel en die bank in dieselfde vertrek. Heelwat antieke voorwerpe is deur familielede en lede van die publiek geskenk.

GRONDVLOER

Voorportaal met likkewaan
Die muurpapier wat hier en elders in die huis te sien is, is ’n reproduksie van die papier wat oorspronklik teen die mure geplak was. Dit was effe ongewoon om ‘n hele huis met dieselfde papier uit te plak, maar die Malherbes kon dit bekostig. Die ontwerp van die papier met die groot, swaar motiewe is tipies van die tydperk.

Malherbe het in 1892 ’n jagekspedisie saam met SJ du Toit na die Zimbabwe-ruïnes onderneem. Tydens hierdie tog het hy ’n likkewaan, soortgelyk aan die opgestopte een wat bo die eetkamerdeur in die voorportaal pryk, geskiet. Dit het daar gehang tot sy dood waarna sy seun, Gideon J, dit gekry het. Die oorspronklike is deur Gideon J en sy dogter Martha verbrand omdat dit te veel goggas gelok het. Die likkewaan wat tans hier hang, is ’n soortgelyke voorbeeld wat deur die destydse Kaapse Provinsiale Departement vir Natuurbewaring geskenk is.

Sitkamer en die dominee
Die meeste meubels en voorwerpe wat in hierdie vertrek uitgestal word, is oorspronklik in die huis gebruik. Baie daarvan is geskenk of op bruikleen verskaf deur kinders en kleinkinders van Gideon Malherbe. Toe die museum in 1975 ingerig is, het drie van Malherbe se seuns steeds geleef. Hulle kon aan die restoureerders presies verduidelik hoe die verskillende vertrekke ingerig was toe hul vader nog geleef het.

Die portret teen die muur is van dominee GWA van der Lingen, die vader van Malherbe se eerste vrou, Nancy. Dit was ook hy wat in 1858 die Nederlandstalige privaatskool De Gimnasium in die Paarl gestig het om voorsiening te maak vir Afrikaanssprekende kinders in die Paarl.

Perskamer met Oom Lokomotief se stoel
Hierdie vertrek was oorspronklik die kinderkamer. Die eerste drukpers van die GRA was ʼn Albion hand-drukpers wat in 1869 deur Frederick Ullmer van Londen (Patent 2607) gebou is. Die Genootskappers het dit in 1876 van die firma Smuts & Hofmeyr in Kaapstad wat De Zuid-Afrikaan uitgegee het, gekoop. Dit het vir ʼn tyd lank hier gestaan saam met al sy toebehore: die proefpers, skroefbindpers en boekbindtoestel. Gideon Malherbe se oudste seun, Petrus Jacobus, was die drukker. Hy het hierdie werk begin doen toe hy maar 18 jaar oud was en moes homself en sy helpers leer hoe om die pers en toebehore te gebruik.

Die portret wat in die vertrek hang, is van Petrus Jacobus en sy vrou, Christina Petronella Elizabeth de Ville. Die eerste redakteur van Die Afrikaanse Patriot (van 1876 tot 1878) was DF du Toit. Hy het ook onder die skuilnaam Oom Lokomotief geskryf. Die stoel wat by die pers staan, was die einste een waarop hy gesit het terwyl hy met sy werk besig was en is ‘Oom Lokomotief se stoel’ genoem.

Gideon Malherbe se slaapkamer
Van die stukke in hierdie vertrek is oorspronklik elders in die huis gebruik, maar die bed en kleiner klerekas het wel hier gestaan in Malherbe se tyd. Eersgenoemde is van rooshout gemaak en was aanvanklik ’n hemelbed, maar die style is later deur die familie afgesaag. Die groot klerekas het voorheen aan Bertie en Gertie le Roux van die Paarl behoort en die wiegie was die eiendom van die Von Wiellighs van Hendrina.

Albei Malherbe se vroue is in hierdie bed oorlede. Nancy, gebore Van der Lingen, is op 27 Januarie 1866 dood en Dorothea, gebore Jaspers, op 28 September 1897. Malherbe is op 10 September 1921 in dieselfde bed in hierdie vertrek oorlede.

Eetkamer, stigtingskamer
Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) is op 14 Augustus 1875 in hierdie vertrek gestig. Baie van die meubelstukke is die oorspronklikes, terwyl die stoele en bank reproduksies van die oorspronklike stukke is.

Teen die mure hang ses waterverfskilderye wat die gelykenis van die verlore seun uitbeeld. Hulle is in ongeveer 1810 deur Gideon Malherbe se moeder, Leonora Elizabeth du Toit, geskilder. Opvallend van die skilderye is dat die Bybelse verhaal uitgebeeld is in die stylidioom van die begin van die 1800’s (die kleredrag en argitektuur van daardie tyd) en nie die stylidiome van die Bybelse tye nie. Die skilderye met die dubbel tonele is ook deur haar gemaak. Haar Nederlandse leermeester het vir haar afdrukke en etse van landskappe en dorpstonele gegee wat sy dan moes nateken en haar eie figure inverf om ʼn verhaal te vertel. Blykbaar het hy ’n hele paar jong meisies in die distrik só geleer skilder en teken.

By die stoepdeur staan ’n paar klompe van Malherbe waarmee hy geloop het in sy wingerde wat destyds tot aan die Bergrivier gestrek het. ʼn Portret van die bekende Voortrekker Sarel Cilliers het teen die oostelike muur gehang, maar die huidige een is ’n reproduksie. Die horlosie teen die muur en leestafel by die venster is van die oorspronklike meubelstukke. Malherbe het dikwels by die tafel gesit en lees in die natuurlike lig wat deur die venster val.

BOONSTE VLOER

Die drietalige, interaktiewe uitstallings hier begin met ‘Ontmoet Afrikaans’ wat aandui waar in die wêreld ’n mens Afrikaans aantref – daar is verwysings na byname en snaakse plekname. Dan volg ‘Die Wortels van Afrikaans’ wat die invloede van die drie kontinente in die skepping van Afrikaans uitbeeld – leer meer oor die herkoms van woorde soos ‘piesang’, ‘dagga’ en ‘ietermagog’.

Daar is ook ‘n uitstalling wat verskillende variëteite van Afrikaans beskryf – luister hoe mense vanaf Mitchells Plain tot in Namakwaland die taal gooi. Die ‘Volkstaal’-uitstalling van Afrikaanse kinderspeletjies behels video’s van kinders wat rympies sing of opsê, met raaisels en ’n geleentheid vir die jongspan om hul kennis van idiome speel-speel op ‘n rekenaar te toets.

Dit word opgevolg met ‘Woordkuns’ waar Afrikaanse woordeboeke pryk asook ‘n groot Afrikaanse krabbel waarop besoekers kan speel. Die laaste vertrek – ‘Van Rieldans tot Rymklets’ – fokus op Afrikaanse musiek met onder meer rymkletsers, opera, Maleierkore, volkspelers, klopse en rieldansers.