Bepalings & Voorwaardes
AFRIKAANSE TAALMUSEUM EN -MONUMENT: BEPALINGS & VOORWAARDES
Reg van toegang word voorbehou en alle besoekers moet ’n geldige toegangs- of ander kaartjie of permit hê terwyl hulle op die persele is. Die houer van enige kaartjie/permit word geag bewus te wees van en alle bepalings en voorwaardes te aanvaar.
Alle besoekers betree die persele op eie risiko. Die ATM kan nie verantwoordelik gehou word vir enige verlies, skade, besering of ongeval in en om die persele nie of as enige geleentheid gekanselleer of aangepas moet word weens omstandighede buite die instelling se beheer nie.
Fooie soos uiteengesit is slegs geldig vir gewone toegang/soos aangedui en nie vir spesiale geleenthede of kommersiële projekte nie. Versoeke vir afslag rakende toegangsgeld of enigiets anders moet skriftelik aan die Direkteur gerig word.
Die ATM se Raad mag die ure waartydens, en die voorwaardes en bepalings waaronder, die publiek die verklaarde instelling of ʼn gedeelte daarvan mag besoek asook die toegangsfooie, bepaal en aanpas. Die ATM se Bestuur behou hom die reg voor om binne redelike perke en sonder enige vooraf kennisgewing die toegangstye en besoekruimtes tydelik aan te pas of op te skort – in sulke gevalle sal besoekers, permithouers en ander belanghebbendes geen reg op enige skadevergoeding hê nie. Die getal besoekers kan beperk word om aan veiligheidsregulasies te voldoen.
• Inkomste uit toegangsfooie, verhurings en permitte word gebruik om die tekort in die subsidie van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur aan te vul. Dit word aangewend vir instandhouding asook om opvoedkundige programme en erfenisprojekte aan te bied.
WAARSKUWINGS
Gevaarlike diere – waaronder slange, spinnekoppe en skerpioene – kom op die persele voor
Veiligheidskameras monitor die persele
ALGEMEEN
Geen antisosiale gedrag geduld – besoekers moet andere en omgewing respekteer
Geen wapens, troeteldiere (uitgesluit gidshonde), smouse, glas, vure, gasbraaie, (damp/e-)rokery, musiek, geraas of vuurwerke
Geen kommersiële en portefeulje-fotografie of verfilming of hommeltuie sonder vooraf bespreking en ’n geldige permit
Pieknieks: Bring gerus komberse, spys en drank (geen glas/vure). Vooraf bespreking slegs noodsaaklik vir groepe van 20 of meer
Kinderpartytjies: Vooraf bespreking noodsaaklik; geen springkastele, versierings ensovoorts
Tuinteater: Tydens geleenthede mag stoele slegs agter gehoor geplaas word
Museum: Groepe word tot 30 per besoek beperk; groter groepe word slegs in die Vroeë Geskrewe Afrikaans-vertrek toegelaat
Gratis begeleide toere word aangebied deur ’n gids indien beskikbaar
Versoeke vir gespesialiseerde toere of om toegang tot argiefmateriaal te kry moet aan die Kurator gerig word
Opvoedkundige toere moet vooraf bespreek word
BESOEKERS MAG NIE
Enige flora beskadig of verwyder en geen fauna pla, beseer, voer, aanraak, vang of verwyder
’n Radio of musiekinstrument speel of andersins ’n geraas maak
Voertuie laat luier op die persele
Op die monument/rotse en mure/dakke van enige geboue of in bome klim
Balspele speel of op fiets, skaatsplanke ensovoorts ry
In die fontein swem of rommel strooi
Op enige meubels of artefakte sit, daarop leun of daaraan raak
In die museum hardloop, spring, op die trapreling afgly of verby die sperpaaltjies beweeg
In die museum eet of drink

