Besoekersinligting
Taalmuseum
Taalmuseum
’n Besoek aan die lieflike museum in die middedorp van Paarl gee besoekers ’n kykie op die ongelooflik diverse ontstaans- en bestaansverhaal van Afrikaans.
Die museum is ingerig in die gerestoureerde, historiese huis van Gideon Malherbe, een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875. Hoewel Afrikaans oor ’n wye gebied in Suider-Afrika geskep is, het belangrike gebeure vir die taal se formele erkenning spesifiek hier afgespeel, daarom is die monument en museum ter plaatse opgerig.
Die uitstallings vertel meer oor Arabiese Afrikaans, algemeen aanvaar as die eerste geskrewe weergawe van die taal, en spog met die drukpers waarop die eerste Afrikaanse koerant ter wêreld gedruk is. Toets ook jou kennis van idiome en beleef die avontuurlike reis van Afrikaanse musiek – van rieldans tot rymklets!
Begeleide toere
Bespreek vooraf by opvoedkundige@taalmuseum.co.za.
Onvergeetlike uitstappie
Opvoeders kan uit leerplangebaseerde onderwerpe kies en werkskaarte word verskaf.
Spesiale programme word op herdenkingsdae soos Mandela-, Taal-, Jeug- en Museumdag aangebied.
Daar is ’n leeskamer waar navorsers ou dokumente kan raadpleeg. Vir eenvoudige navorsingsnavrae, reageer ons per e-pos op geskrewe vrae aan navorsing@taalmuseum.co.za. Reël met die Kurator vooraf indien jy toegang tot die versameling Africana-boeke benodig.
Iets vir almal
Die museum en monument bied ook gereeld uitsonderlike geleenthede aan. Loer gerus na ons eersdaagse geleenthede of kry al die jongste inligting op ons Facebook-blad.
- Verjaar jy? Toon jou geldige SA ID vir gratis toegang!
- As jy die museum in die Paarl en die monument op Paarlberg op dieselfde dag besoek, kry jy ’n R10-afslag vir die tweede besoek. Hou jou kwitansies as bewys.
OPENINGSTYE: TAALMUSEUM
Weeksdae van 08:30 tot 16:45, maar gesluit oor naweke, op openbare vakansiedae en vanaf Kersfees (25 Desember) tot Nuwejaarsdag (1 Januarie).
TOEGANGSFOOIE - geldig tot 31 Maart 2025
Kaart verkies, kontant aanvaar.
VOLWASSENES
R20 (R10 vir Drakenstein-inwoners met geldige biblioteekkaartjies)
SA STUDENTE/PENSIOENARISSE
R10 met geldige bewys
KINDERS ONDER 18
R10 (gratis onder ses jaar)
SKOOLGROEPE
R10 per leerder; gratis toegang vir 2 opvoeders en busbestuurder per groep. Bespreek vooraf by opvoedkundige@taalmuseum.co.za vir opvoedkundige programme.
TOERGROEPE
Gewone toegangsfooi per persoon, maar toeroperateurtarief en STO onderhandelbaar. Doen hiervoor vroegtydig aansoek by ontvangs@taalmuseum.co.za. Gratis vir geregistreerde toergidse en busbestuurders.
BEKOSTIGBARE PERMITTE
JAARPERMIT: Slegs R120 vir individue en R220 vir ’n gesin van vier. Dit sluit onbeperkte toegang tot die museum, monument, bistro, wandelpaaie en volmaanpieknieks in.
BERGFIETSRYPERMIT: Gewone toegangsfooi per dag of jaarpermit van R220 per persoon. Laasgenoemde sluit onbeperkte toegang tot bergafbane, museum, monument, bistro, wandelpaaie en volmaanpieknieks in.
STAPPERMIT: Gewone toegangsfooi en R20-deposito vir sleutel.
VIRTUELE TOER
Geniet ’n virtuele toer van die museum.
Klik en sleep jou muis in enige rigting om alles te sien. As jy met die muis sweef oor die skerm en ’n hand word vertoon, kan jy ook daarop klik om te spring na daardie posisie.