
Laat jou woorde sweef by Taalmonument
Bekroonde skrywer Hugo lei slypskool vir beginner- en ervare digters

As jy jou digkuns wil opskerp of nuwe inspirasie vir jou skryfwerk soek, is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se unieke slypskool met woordmeester Daniël Hugo op SATERDAG 25 JULIE 2026 die perfekte plan. Dié geliefde en bekroonde digter, vertaler en radiostem is al vir jare ’n onmisbare deel van die Afrikaanse taal en letterkunde.
Sy werkswinkel sal verskeie aspekte van digkuns, soos beeldspraak en digvorme, bespreek asook ’n praktiese afdeling bied waarin daar aan deelnemers se gedigte geskaaf en geslyp sal word. Dit sal op ’n opbouende en vermaaklike manier plaasvind om almal se woordkuns en selfvertroue op te bou. Aangesien dit gemik is op belangstellendes wat reeds dig, word hulle aangemoedig om minstens een van hul gedigte/skryfpogings saam te bring.
Daniël het al meer as ’n dosyn digbundels gepubliseer – sy debuut, Die anatomie van melancholie (1984), is met die Ingrid Jonker-prys bekroon, waarna nog gewilde bundels soos Openbare domein, Hanekraai en Klinkklaar gevolg het. Buiten sy eie skryfwerk is hy ook bekend om sy vertalings van klassieke Nederlandse en Vlaamse literatuur in Afrikaans asook vir sy jarelange werk as radiostem en sy hartstog vir Afrikaans.
Die geleentheid is deel van die ATM se mandaat om die taal op ’n interaktiewe en skeppende manier te bevorder en om plaaslike inwoners, veral jonges, die geleentheid te bied om hul talente uit te leef. Een en almal is welkom.
🎟️ + ℹ️ Die slypskool vind in die monument se raadsaal op Paarlberg vanaf 09:00 tot 15:00 plaas. Dit kos slegs R250, wat ’n gratis besoek aan die monument asook ligte verversings en skryfbehoeftes insluit. Deelnemers moet ’n middagete saambring aangesien die bistro tans gesluit is. Plekke is beperk, dus bespreek asseblief voor 24 Julie via kommunikasie@taalmuseum.co.za of 076 017 6026 (WA) en voltooi ’n kort aanlynvorm hier.
ℹ️ Volg Taalmonument en Taalmuseum se unieke geleenthede, konserte en kursusse via
WhatsApp Instagram Facebook Nuusbrief Taalmuseum.co.za/wat-gebeur
Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in talle tale oor die simboliek van die monument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
👉 Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin – sluit onbeperkte toegang tot die ATM, bistro, staproetes en Volmaanpieknieks in. Bel 021 863 0543.

