Afrikaanse druktradisie: van toeka tot toekoms

Afrikaanse druktradisie: van toeka tot toekoms

906 906 people viewed this event.

Gratis paneelgesprek by Taalmonument vier eerste Afrikaanse koerant van 150 jaar gelede

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) vier Taaldag 2026 op VRYDAG 14 AUGUSTUS 2026 met ’n fassinerende, interaktiewe paneelgesprek waartydens kenners die Afrikaanse druktradisie, in al haar vorme, onder die loep neem en oor die toekoms daarvan besin.

Volgens ATM-direkteur Michael Jonas vorm dié tegnologie die geskiedkundige en kulturele ruggraat wat Afrikaans van ’n gesproke taal tot ’n volwaardige literêre, akademiese en mediataal opgebou het. “Van die eerste gedrukte Afrikaans in Genadendal, die Bo-Kaap en later die Paarl in die 1800’s tot die moderne drukkuns weerspieël hierdie tradisie die veerkragtigheid en aanpassingsvermoë van die taal en haar sprekers,” sê hy. “Vanjaar is dit boonop 150 jaar sedert die eerste Afrikaanse koerant, die Afrikaanse Patriot, in 1876 in gedruk is, dus dit is die perfekte geleentheid om op hierdie geskiedenis te fokus.”

Die paneel sal bestaan uit die joernaliste Rasaad Adams en Ilse Salzwedel, argivaris Geraldine Frieslaar (UWK), uitgewer Annie Olivier (Jonathan Ball) asook leksikograaf Phillip Louw (WAT) en deur die ATM se kommunikasiehoof, Sybrandus Adema, gelei word.

Gegewe die digitalisering van kennis en vermaak oor die afgelope dekades, is die vraag wêreldwyd wat volgende voorlê vir die gedrukte media en tot watter mate dit as navorsingsbron gaan of kan dien vir toekomstige generasies. “Museums en fisieke argiewe versamel nie eintlik digitale media nie, dus beteken dit ons is besig om ’n ‘digitale donker eeu’ te betree?” vra Jonas. Die snelheid waarteen die uitgewersbedryf, kuberruimte en kunsmatige intelligensie verander skep boonop nuwe uitdagings.

Daarom sal die gesprek fokus op onder meer hoe erfenisinstellings daarmee omgaan en oor wat gebeur as digitale argiewe verdwyn en geen fisieke argief as rugsteun dien nie. “As navorsers byvoorbeeld oor 50 jaar ondersoek na gebeure in 2026 doen, watter bronne sou tot hul beskikking wees?”

Hierdie en ander interessante vrae – met spesifieke fokus op die Afrikaanse druktradisie van die verlede, hede en toekoms – gaan aan die paneel gestel word  waarna die gehoor vrae kan vra. Daarom word een en almal uitgenooi om hierdie informele, gesellige gesprek by te woon.

Die GRATIS GELEENTHEID, waar verversings bedien sal word, vind vanaf 18:00 tot 20:30 in die Historiumgebou by Pastorielaan 11 te Paarl plaas.
🎟️ + ℹ️ Aangesien daar slegs beperkte plekke beskikbaar is, moet belangstellendes teen 13 AUGUSTUS bespreek. E-pos Heinrich von Wielligh by kommunikasie@taalmuseum.co.za, skakel 021 863 0543 of WhatsApp 076 017 6026.

ℹ️ Volg Taalmonument en Taalmuseum se unieke geleenthede, konserte en kursusse via
WhatsApp          Instagram            Facebook            Nuusbrief           Taalmuseum.co.za/wat-gebeur
Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in talle tale oor die simboliek van die monument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
👉 Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin – sluit onbeperkte toegang tot die ATM, bistro, staproetes en Volmaanpieknieks in. Bel 021 863 0543.

Om te registreer, epos jou besonderhede na kommunikasie2@taalmuseum.co.za

Registreer met webpos: Gmail / AOL / Yahoo / Outlook

 

Datum en tyd

2026-08-14 @ 06:00 NM to
2026-08-14 @ 08:30 NM
 

Registration End Date

2026-08-13

Deel met vriende