
Vitaal Makietie bring nuwe energie na Taalmonument
Tweedaagse fees vier kultuur, argitektuur en natuur met plesier
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) is opgewonde om vanjaar die Vitaal Makietie aan te bied, ’n tweedaagse viering wat dié lente taal, kultuur, musiek, leefstyl, avontuur en samesyn op ’n vars en toeganklike wyse by die monument byeenbring.
Die makietie bestaan uit die gewilde Koorfees op VRYDAG 9 OKTOBER vanaf 18:00 tot 20:00 by die Amfiteater en die aktiwiteit-belaaide Jaarfees vanaf 07:00 tot 20:00 op SATERDAG 10 OKTOBER 2026 by die Taalmonument op die beeldskone Paarlberg. Danksy vennootskappe met The Rock Ultra (TRU), All Mountain Co., Spur en die Drakenstein-munisipaliteit beloof hierdie unieke geleentheid om die eerste weergawe van ’n jaarlikse instelling te wees.
“Die Vitaal Makietie is ’n nuwe manier om ons verjaardag (die monument is in Oktober 1975 ingewy) te vier en terselfdertyd die Taalmonument se deure nóg wyer oop te maak deur mense van alle ouderdomme na die Boland se bekendste kulturele baken te lok,” sê direkteur Michael Jonas. “Ons wil hê mense moet die ATM nie net as ’n plek van erfenis en geskiedenis ervaar nie, maar ook as ’n dinamiese ontmoetingsplek waar mense byeenkom, pret het en nuwe herinneringe skep. Die woord ‘vitaal’ sinspeel op die woord taal as ’n onmisbare, lewenskragtige bron van lewe terwyl die Afrikaanse ‘makietie’ van die Sesotho-woord ‘mokete’ (fees) erkenning gee aan die wisselwerking tussen ons Afrikatale en ons mense.” Hoewel die Afrikaanse taal- en kultuurerfenis die hart van die geleentheid vorm, is die doel om ’n platform te skep waar mense met uiteenlopende agtergronde saam kan kuier en deelneem.
Die veeltalige skoolkoorfees op Vrydag bied byvoorbeeld aan skole ’n unieke geleentheid om hul liefde vir musiek te deel, nuwe kontakte op te bou en die vreugde van koorsang saam met hul families en belangstellendes te vier. Vanjaar neem Hoër Meisieskool La Rochelle, Hoër Meisieskool Paarl Junior- en Seniorkoor, Hoërskool Brackenfell Dogterskoor, Hoërskool Punt, Klein Nederburg Sekondêre Skoolkoor, Laer Meisieskool La Rochelle Junior- en Seniorkoor, Laerskool Drakenstein, Laerskool Noord-Eind, Laerskool Paulus Joubert en Laerskool Totius deel.
Saterdag vind daar onder meer kindervermaak en ’n kulturele program met bekende musikante en woordkunstenaars plaas. Talle stalletjies sal heerlike spys, drank en ander items aanbied, met Spur wat die hoof- voedselvennoot op beide dae is. ‘Is jy van jou trollie af?’-kaskarrenne, joga, wandeltogte en ’n avontuurstap sal die meer energiekes gelukkig gaan hou. Laasgenoemde is danksy die ATM se vennootskap met TRU en All Mountain Co. waardeur verskillende wêrelde byeenbring word om ’n moderne geleentheid te skep wat professionele standaarde met gemeenskapsbetrokkenheid en gesinsdeelname kombineer.
Volgens Mias de Klerk, TRU se wendrendirekteur, is dit vir hom en hul besigheid verrykend om saam met die Taalmonument-span te werk. “Ons glo in Afrikaans as ’n verenigende krag wat ’n ongelooflike verskeidenheid interessante en diverse mense bymekaarbring,” sê hy. “Ons beplan tans ook The Rock Ultra, ’n ultra-afstand bergwedloop in Desember wat by die Taalmonument sal begin en eindig, bied reeds heerlike stappe en pieknieks vanaf die monument in samewerking met Drakenstein se Paarlberg-bestuur aan, en open binnekort Potties Koffie & Deli by die monument.”
“Ons wil iets skep wat vitaal voel, iets wat beweeg en leef,” voeg Jonas by: “ ’n Viering met energie, karakter en ’n sterk gevoel van saamwees.” Die geleentheid sluit ook aan by die ATM se breër visie om die Taalmonument as ’n relevante en vooruitdenkende kulturele instelling te posisioneer, waar erfenis op nuwe en skeppende maniere vir huidige én toekomstige geslagte aangebied word. Die doel is om dit as ’n volhoubare jaarlikse geleentheid te vestig wat besoekers van oral lok en só ook toerisme en die plaaslike ekonomiese aktiwiteit in die Paarlvallei en omliggende streek ondersteun.
“Ons hoop dat mense vir die Vitaal Makietie kom, maar weggaan met ’n groter waardering vir die plek self,” sê Jonas. “Ons wil hê hulle moet ontdek dat die Taalmonument inderdaad ’n lewende monument is in ooreenstemming met die argitek, Jan van Wijk, se visie. Dit is ’n plek waar mense kan ontmoet, speel, luister, leer, vier en deel wees van iets groter. Ons het boonop afslagkaartjies vir mense wat albei dae ondersteun, dus kom en word deel van hierdie nuwe tradisie!”
Verversings sal te koop wees en gaste word versoek om warm klere vir die aand saam te bring. Geen eie pieknieks of drank word toegelaat nie.
🎟️ + ℹ️ Vir die Koorfees op 9 OKTOBER is dit slegs R120 per volwassene en R80 per leerder.
Vir die Jaarfees op 10 OKTOBER is dit R150 per volwassene en R100 per leerder.
Vir albei dae (naweekpas) is dit R250 per volwassene en R100 per leerder.
Kaartjies is beskikbaar op quicket.co.za (klik op enige datum om al ses opsies te sien) of by die hek. Vir meer inligting, besoek taalmuseum.co.za of kontak Tancewill Jaftha by bemarking2@taalmuseum.co.za of 021 863 0543.
ℹ️ Volg Taalmonument en Taalmuseum se unieke geleenthede, konserte en kursusse via
WhatsApp Instagram Facebook Nuusbrief Taalmuseum.co.za/wat-gebeur
Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in talle tale oor die simboliek van die monument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
👉 Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin – sluit onbeperkte toegang tot die ATM, bistro, staproetes en Volmaanpieknieks in. Bel 021 863 0543.


