Registrations have closed.
Skouspel bo die Taalmonument

Skouspel bo die Taalmonument

1883 1883 people viewed this event.
GRATIS R15 R55

Skitterende sterrekykpiekniek fokus op 47 Tucanae

Inwoners en besoekers sal die skitterende sterrehemel – spesifiek die sprankelende sterrebondel 47 Tucanae – van nader leer ken tydens die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se sterrekykpiekniek op Paarlberg op SATERDAG, 13 DESEMBER 2025. Dit beloof om ’n feestelike aand in ’n asemrowende omgewing te wees, met ’n skouspelagtige sonsondergang, gratis toegang tot die ikoniese beeldhouwerk én die wete dat die aand ’n goeie doel ondersteun.

Boonop neem die Orion Observasie Groep (OOG) gaste op ’n reis deur die heelal met hul gratis teleskope en aansteeklike entoesiasme. 47 Tucanae verlei danksy die verstommende digtheid van sterre wat soos ’n sprankelende juweel in die naghemel skitter.  Hierdie reuse sterrebondel, wat sowat 16 000 ligjare van ons af in die sterrebeeld Tucanae lê, bevat miljoene sterre.  Deur ’n teleskoop ontplof dit in ’n skouspel van ligpunte wat die verbeelding aangryp. Dit is ’n kosmiese venster na die antieke heelal, ’n plek waar sterre miljarde jare oud saamgedruk is.

Hekke open om 17:00 waarna besoekers die beeldskone vergesigte oor die valleie, berge en die skiereiland kan inadem voordat hulle van sononder tot 22:00 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur. Gaste word aangemoedig om die terrein, uitstallings en die simboliekryke monument te verken. ’n Gratis begeleide toer vind om 18:30 plaas om die geskiedenis en betekenis van die monument toe te lig. Vir jong sterrekykers is daar buitelugspeletjies en speelparke beskikbaar.

Piekniekgangers is welkom om hul eie kos en drankies (geen glas) saam te bring. Onthou om warm klere en verkykers mee te neem; veilige parkering is beskikbaar. Die piekniekreeks ondersteun die ATM se geletterdheidsprojek Laat ons Lees!, wat daarop gemik is om kinders die vreugde van lees te laat ontdek. Gaste word aangemoedig om nuwe of tweedehandse kinderboeke te skenk.

Kaartjies beskikbaar by quicket.co.za of die hek teen slegs

  • R55 vir volwassenes
  • R15 vir SA studente, pensioenarisse en kinders 18 en jonger
  • GRATIS vir kinders onder 6 jaar

 Vir hektoegang is voorafbespreking via 076 017 6026 (WA) of kommunikasie@taalmuseum.co.za noodsaaklik sodat genoeg teleskope beskikbaar is. Indien die weer nie saamspeel nie, sal die piekniek ongelukkig gekanselleer word – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 op die dag vir weernavrae. Voorafgekoopte kaartjies kan oorgedra of terugbetaal word. Die volgende sterrekykpieknieks is op 17 Januarie 2026 (Orion), 13 Februarie (Jupiter) en 14 Maart (Juwelekissie).

ℹ️ Sien Taalmonument en Taalmuseum se unieke geleenthede, konserte en kursusse by
WhatsApp          Instagram            Facebook            Nuusbrief           Taalmuseum.co.za/wat-gebeur
Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in talle tale oor die simboliek van die monument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
👉 Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin – sluit onbeperkte toegang tot die ATM, bistro, staproetes en Volmaanpieknieks in. Skakel 021 863 0543.

 

Datum en tyd

2025-12-13 @ 05:00 NM to
2025-12-13 @ 10:00 NM
 

Deel met vriende