
Maanlig met ’n melkerige kinkel
Khoekhoen-erfenis in die kollig by Taalmonument se piekniek!

Met die somer byna op ons, is ’n heerlike lenteaand op die beeldskone Paarlberg die perfekte plek om die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se volmaanpiekniek op VRYDAG 27 NOVEMBER 2026 te vier.
Dié gewilde pieknieks lok plaaslike inwoners en toeriste wat onvergeetlike aande ervaar danksy die asemrowende sonsondergang, maanopkoms, natuurskoon en panoramiese uitsig oor berge, valleie en Kaapse Skiereiland. Gaste is welkom om enige tyd tussen 17:00 en 22:00 te kom ontspan en piekniek hou terwyl hulle ook die monument – ’n unieke beeldhouwerk met ryk simboliek – van naderby besigtig. ’n Gratis begeleide toer wat die betekenis en ontwerp van die monument belig, begin om 18:30. Daarbenewens kan besoekers die uitstallings en omgewing verken, en kinders kan hulle gate uit geniet in die speelparke en met buitelug-speletjies.
Hierdie piekniek is gewy aan die Melkmaan, in samewerking met die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse volmaanname in Suider-Afrika bevorder. Dit verwys na die feit dat suiwel nog altyd ’n belangrike bron van proteïene vir onder meer die Khoekhoen was. Dit is vars en gefermenteer aan besoekers aangebied, en in die voorbereiding van kos asook die maak van botter gebruik.
Gaste is welkom om hul eie spys en drank te bring (geen glas/vure, asseblief). Onthou ook warm klere en ’n flitslig om die aand voluit te geniet. Gratis, veilige parkering is beskikbaar. Die piekniekreeks ondersteun die ATM se geletterdheidsprojek ‘Laat ons Lees!’ wat daarop gemik is om kinders aan die vreugde van lees bloot te stel. Piekniekgangers word hartlik versoek om nuwe of tweedehandse kinderboeke te skenk.
🎟️ Kaartjies is beskikbaar by quicket.co.za of die hek; dit kos slegs:
- R40 vir volwassenes
- R10 vir SA studente, pensioenarisse en kinders 18 en jonger
- GRATIS vir kinders onder 6 jaar asook jaarpermithouers
ℹ️ Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by cfah.org.za/fullmoon. Die volgende volmaanpieknieks is op 22 Januarie 2027 (Bidsprinkaanmaan), 20 Februarie (Dassiemaan) en 20 Maart (Oesmaan).
ℹ️ Volg Taalmonument en Taalmuseum se unieke geleenthede, konserte en kursusse via
WhatsApp Instagram Facebook Nuusbrief Taalmuseum.co.za/wat-gebeur
Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in talle tale oor die simboliek van die monument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
👉 Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin – sluit onbeperkte toegang tot die ATM, bistro, staproetes en Volmaanpieknieks in. Bel 021 863 0543.

