
Maak ’n nota vir eens-in-’n-leeftyd dans
Taalmonument vier 50ste met musiek in goud en swart

Skryf dit neer, maak ’n knoop, krap dit op die muur, plaas dit nou op jou elektroniese kalender – op SATERDAG, 11 OKTOBER 2025, vier die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) 50 jong jare met ’n heerlike opskop in die PAARL-STADSAAL. En almal is uitgenooi!
Five Stars orkes, begelei deur Chadleigh Gowar sal die note verskaf met ’n verskeidenheid musiek op klawers, wit en swart; wat die gaste betref, is die kledingtema goud en swart. Stof dus solank jou skoene af, lig jou dansgenote in en koop kaartjies teen slegs R150 om hierdie merkwaardige halfeeu saam met die instelling te vier.
Kaartjie is beskikbaar op quicket.co.za of in die Historium, Pastorieweg 11, in die Paarl. Deure open om 18:00, orkes spring weg om 19:00 en – nes met verlede jaar se hoogs aangeprese dans – is besoekers welkom om hul eie kos en drank te bring. Die laaste dans is om 23:00. Vir meer besonderhede, kontak Gershwyn Fredericks op 021 863 0543 of opvoedkundige@taalmuseum.co.za.
- Vir inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die ATM, skakel 021 872 3441, besoek taalmonument.co.za, teken in op die nuusbrief of volg hulle op Facebook/Instagram en die WA-kanaal. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat onbeperkte toegang tot die ATM, bistro en volmaanpieknieks insluit.

