
Inheemse plante en hul medisinale waarde
Vier ons groen erfenis by Taalmonument

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) plaas op SATERDAG 24 OKTOBER 2026 die kollig op ons plante-erfenis, met spesifieke aandag op die tradisionele en medisinale gebruike daarvan. Dít danksy die befaamde fynbosbotanis Rupert Koopman en ander kenners wat ’n unieke, veeltalige inheemse plantewerkswinkel aanbied om die lewende erfenis, mondelinge tradisies en inheemse kennisstelsels hiervan aan meer mense oor te dra.
Koopman is ’n ervare veldplantkundige met ’n besondere belangstelling in die Kaapse blommeryk en die bewaring van sy unieke plantdiversiteit. Sy werk behels onder meer die dokumentering van plantspesies en die bestudering van veranderinge in hul natuurlike habitat. Hy deel ook graag sy kennis oor fynbos, die name van plante en die stories wat daarmee saamgaan aan die breër publiek. Tydens die werkswinkel sal hy fokus op die fynbos van die Drakenstein-streek en besondere plantspesies wat slegs in beperkte gebiede voorkom.
Die program behels verder ’n interessante kombinasie van gesprekke, demonstrasies en praktiese ervarings. Hilton Koul en Julia Draghoender bied ’n kruiepraatjie en sensoriese sessie oor kruie en hul gebruike aan, terwyl Hennah Flesch die oorsprong en geskiedenis van die Montagu-museum se medisinale kruietuin en die gebruike van die kruie bespreek. Die Worcester-museum sal ook wys hoe kruiesalf gemaak word.
Van 12:00 tot 13:00 neem Koul boonop deelnemers op ’n begeleide toer deur die monument se kruietuin. Hier sal hulle meer leer oor medisinale plante, insluitend hul botaniese, inheemse en streekname asook hul tradisionele gebruike.
Besoekers kan verder tussen 10:00 en 14:00 by verskeie stalletjies rondloer en produkte koop, waaronder gedroogde kruie, tradisionele brode, roosterkoek, fynbosstrope en -drankies, plantstrope en heuningbosprodukte. Die stalletjies is ook vir die breër publiek toeganklik, onderhewig aan die gewone toegangsgeld tot die terrein.
Met dié werkswinkel wil die ATM bewustheid van ons natuurlike erfenis bevorder en help verseker dat kennis oor inheemse plante, hul name, stories en tradisionele gebruike aan toekomstige geslagte oorgedra word.
🎟️ + ℹ️ Die werkswinkel vind op 24 Oktober van 10:00 tot 14:00 by die monument op Paarlberg plaas. Dit kos slegs R300 per persoon, wat toegang tot die monument asook ligte verversings insluit. Plekke is beperk, dus bespreek asseblief voor 23 Oktober via kommunikasie@taalmuseum.co.za of 076 017 6026 (WhatsApp) of voltooi direk ’n kort aanlynvorm hier.
ℹ️ Volg Taalmonument en Taalmuseum se unieke geleenthede, konserte en kursusse via
WhatsApp Instagram Facebook Nuusbrief Taalmuseum.co.za/wat-gebeur
Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in talle tale oor die simboliek van die monument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
👉 Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin – sluit onbeperkte toegang tot die ATM, bistro, staproetes en Volmaanpieknieks in. Bel 021 863 0543.

