Registrations have closed.
Berg van melk, maan en pieknieks

Berg van melk, maan en pieknieks

1728 1728 people viewed this event.
GRATIS | R10 | R40

Volmaan ter ere van suiwel by Taalmonument

Met nóg ’n jaar wat einde se kant toe staan, is ’n heerlike lenteaand op die beeldskone Paarlberg die perfekte plek om die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se volmaanpiekniek op VRYDAG, 7 NOVEMBER 2025, te vier.

Dié gewilde pieknieks lok plaaslike inwoners en toeriste wat onvergeetlike aande ervaar danksy die asemrowende sonsondergang, maanopkoms, natuurskoon en panoramiese uitsig oor berge, valleie en Kaapse Skiereiland. Gaste is welkom om enige tyd tussen 17:00 en 22:00 te kom ontspan en piekniek hou terwyl hulle ook die monument – ’n unieke beeldhouwerk met ryk simboliek – van naderby besigtig. ’n Gratis begeleide toer wat die betekenis en ontwerp van die monument belig, begin om 18:30. Daarbenewens kan besoekers die uitstallings en omgewing verken, en kinders kan hulle gate uit geniet in die speelparke en met buitelug-speletjies.

Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek aan die Melkmaan gewy – dit verwys na die feit dat suiwel nog altyd ’n belangrike bron van proteïene vir onder meer die Khoekhoen was. Dit is vars en gefermenteer aan besoekers aangebied, en in die voorbereiding van kos asook die maak van botter gebruik.

Gaste is welkom om hul eie spys en drank te bring (geen glas, asseblief). Onthou ook warm klere en ’n flitslig om die aand voluit te geniet. Gratis, veilige parkering is beskikbaar. Die piekniekreeks ondersteun die ATM se geletterdheidsprojek ‘Laat ons Lees!’, wat daarop gemik is om kinders aan die vreugde van lees bloot te stel. Piekniekgangers word hartlik versoek om nuwe of tweedehandse kinderboeke te skenk.

Toegang is:
R40 vir volwassenes
R10 vir SA studente, pensioenarisse en kinders 18 en jonger
GRATIS vir kinders onder 6 jaar asook jaarpermithouers.
Kaartjies is beskikbaar by quicket.co.za of die hek. Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by cfah.org.za/fullmoon. Die volgende Volmaanpieknieks is op
7 November (Melk), 5 Desember (Springbok), 3 Januarie 2026 (Bidsprinkaan), 30 Januarie (Luiperd) en 28 Februarie (Dassie).

  • Vir inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmuseum.co.za, teken in op die nuusbrief of volg hulle op Facebook/Instagram en die WA-kanaal. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.
 

Datum en tyd

2025-11-07 @ 05:00 NM to
2025-11-07 @ 10:00 NM
 

Deel met vriende