Alle oë op Saturnus!

Alle oë op Saturnus!

2039 2039 people viewed this event.

Bewonder die ringreus tydens Taalmonument se sterrekykpiekniek

Met die lente in volle swang kry inwoners en besoekers die kans om die prag van die naghemel – met Saturnus in die kollig – te ontdek tydens die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se eerste sterrekykpiekniek op VRYDAG 27 NOVEMBER 2026. Dit beloof om ’n feestelike aand in ’n asemrowende omgewing te wees, met ’n skouspelagtige sonsondergang, gratis toegang tot die ikoniese beeldhouwerk én die wete dat die aand ’n goeie doel ondersteun.

Boonop neem die kenners van die Orion Observasie Groep (OOG) gaste op ’n reis deur die heelal met hul teleskope en entoesiasme. Die ster van dié aand is Saturnus – die sesde planeet vanaf die son en tweede-grootste in die sonnestelsel. Sy pragtige ringe, soos ’n kosmiese kroon, maak hom een van die mees betowerende “sjoe!”-gesigte in die ruimte. Hierdie reuse-gasplaneet, meer as 900 keer groter as ons planeet, herinner aan ’n hemelse skildery: stil, tydloos en oorweldigend mooi.

Hekke open om 17:00 waarna besoekers die beeldskone vergesigte oor die valleie, berge en die skiereiland kan inadem voordat hulle van sononder tot 22:00 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur. Gaste word aangemoedig om die terrein, uitstallings en die simboliekryke monument te verken. ’n Gratis begeleide toer vind om 18:30 plaas om die geskiedenis en betekenis van die monument toe te lig. Vir jong sterrekykers is daar buitelugspeletjies en speelparke beskikbaar.

Gaste is welkom om hul eie spys en drank te bring (geen glas/vure, asseblief). Onthou ook warm klere en ’n flitslig om die aand voluit te geniet. Gratis, veilige parkering is beskikbaar. Die piekniekreeks ondersteun die ATM se geletterdheidsprojek ‘Laat ons Lees!’ wat daarop gemik is om kinders aan die vreugde van lees bloot te stel. Piekniekgangers word hartlik versoek om nuwe of tweedehandse kinderboeke te skenk.

🎟️ Kaartjies is beskikbaar by quicket.co.za of die hek; dit kos slegs:

  • R60 vir volwassenes
  • R20 vir SA studente, pensioenarisse en kinders 18 en jonger
  • GRATIS vir kinders onder 6 jaar

ℹ️ Vir HEKTOEGANG IS VOORAFBESPREKING NOODSAAKLIK via 076 017 6026 (WA) of kommunikasie@taalmuseum.co.za sodat genoeg teleskope beskikbaar is. Indien die weer nie saamspeel nie, sal die piekniek ongelukkig gekanselleer word – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 op die dag vir weernavrae. Voorafgekoopte kaartjies kan oorgedra of terugbetaal word. Die volgende sterrekykpieknieks is op 13 Desember (47 Tucanae), 8 Januarie 2027 (Sewe Susters), 6 Februarie (Orion) en 6 Maart (Jupiter). Meer oor OOG by facebook.com/OrionObservasieGroep

ℹ️ Volg Taalmonument en Taalmuseum se unieke geleenthede, konserte en kursusse via
WhatsApp          Instagram            Facebook            Nuusbrief           Taalmuseum.co.za/wat-gebeur
Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in talle tale oor die simboliek van die monument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
👉 Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin – sluit onbeperkte toegang tot die ATM, bistro, staproetes en Volmaanpieknieks in. Bel 021 863 0543.

To register for this event please visit the following URL: https://www.quicket.co.za/ →

 

Datum en tyd

2026-11-27 @ 05:00 NM to
2026-11-27 @ 10:00 NM

Deel met vriende