Bygelowe is ‘n interessante onderdeel van volksgelowe. Hier volg ‘n verhaal oor weerlig en donderweer uit die Noord-Kaap.
Dina Slinger van Klipfontein vertel: “Ons het gewoon op Molsvlei. Da duskant Rietpoort. Rietpoort is ’n hele entjie van Molsvlei af. Ma dit was daai tyd die enigste winkels wat da was. Nou om die mense mos nou nie met die donkiekar winkels toe gery’it, da moet os mos nou as kinners met onse voete loop as ons ouers ons mos nou gestuur het. Toe sien ek nou ma dis da’m ’n bietjie ver nou om te stap, want as jy nou innie oggend gestap’t dat kom jy nou innie laatmiddag by die huis aan en jy’s moeg en jy’s dors van die hele ent se stappad.
“Maar toe sien ek, ek moet nou vir my ’n mouter kry. En die mouter wat ek toe kry is hierrie bicyclewiel wat die speke van uitgehaal is. Nou daai bicyclewiel, as die speke nou uit is, drywe jy hom nou met ’n stokkiekie in daai slootjie van die wiel. Nou as jy nou met die stokkie en die wiel nou beginne ry, da ry jy ver. Jy raak’ie sommer moeg, want jy draf agter daai wiel aan. As ma’le my nou weer stuur, da ry ek met my bicyclewiel.
“En op ’n oggend, dis so onweer toe moet ek nou Rietpoort toe. Nou daai tyd toe was ons kinners nie vir donnerweer bang’ie. En die oggend ry ek nou met die wiel, maar dis nou so onweer en ek het so ’n truitjie aan wat ma nou vir my ma aantrek’it. Ma ek is nou met die wiel weg Rietpoort toe. En ek ry nou lekker. Nou met my sakkiekie oppie rug.
“Da loop afkom by die winkel en ek koop da; dis nou eindlik net tee en suiker of die goed wat nou lig is, wat jy kon dra. En ek het nou klaar gekoop en ek het nou my sakkie oppie rug. Maar nou, as jy nou uit Rietpoort uitkom, da moet jy nou tussen’ie koppetjies, moet jy nou die voetpad eers klim. Nou stap jy met die wiel oer skouer en stok innie hand. Sakkie oppie rug. Nou stap jy tot jy bo-op uit is, dan is’ie voetpad nou gelyk en davanaf ka jy nou wee jou wieletjie innie pad steek.”
Ek het mos nou nie met die donnerweer ’n saak aan
“Draf agter my wiel met my stok. Maar die donderweer druk nou so, so effentjies en die donnerweer dreun nou so effentjies en so kom daai donner al nader. Ma ek het mos nou nie met die donnerweer ’n saak aan nie. Dit donnerweer kraak en dit blits. Ek dink later die outydse mense’t gesê swaarweer is swaar op rooi. En ek het mos rooi trui aan en ek los die wiel en ek haal die sak af in trek die trui uit. Ek los die trui net daar waar ek en hom uitgetrek het. Ek los nou hom so op ’n bos en ek sit my sak oppie rug en ek is weer met die wiel innie pad.
“En ek ry so ’n ent vannie jersey af en ek kyk weer toe staan daai weerskote netso bo-op daai jersey. En ek het aanhou huistoe, toe kan ek’ie praat van skrik. Dis nou die jersey wat gemaak’it die donnerweer kom mos vir my met die rooi jersey aan. En van daarrie dag af as die reën nog ver is en ek het ’n rooi ding aan trek ek hom eietyd uit. Want ek is vir die weer te bang.
- Die informante het vrywillig deelgeneem aan die projek en toestemmingsvorms onderteken vir die gebruik van inligting vir navorsing. Die ATM verdien geen inkomste uit hierdie stories nie. Die inligting is ingesamel vir ʼn mondelinge oorleweringsprojek wat kennis en inligting beskikbaar stel aan die nageslag, navorsers en publiek asook om die histories gemarginaliseerde variëteite soos Gariepafrikaans te bevorder. Sien meer by taalmuseum.co.za/die-kartering-van-gariepafrikaans en deur ‘Noord-Kaap’ in die soekfunksie op ons webtuiste te tik.