In die Afrikaanse Taalmuseum in Paarl is daar twee pare pragtige klompe. Die een het aan Gideon Malherbe (lank gelede eienaar van die gebou waarin die museum is) behoort en die ander aan CP Hoogenhout. Malherbe was ʼn Paarlse sakeman, wingerdboer, wamaker en een van die stigterslede van die taalstrydende Genootskap van Regte Afrikaners. Sy tweede vrou, Dorothea Jaspers, was van Nederlandse afkoms en die storie word vertel dat sy baie netjies was en daarop aangedring het dat hy die klompe dra in die wingerd en dit dan uittrek voordat hy die huis betree.
Maar waar kom die dra van klompe vandaan? Sedert die eerste mense hul voete op die grond geplaas het – en in ʼn doring getrap het! – was daar ʼn soeke na beskerming vir voete. Die Nederlanders het reeds vanaf die Middeleeue houtskoene oftewel klompen (clogs in Engels, choppino in Italiaans, sabot in Frans) gedra. Die hout wat gebruik is, was van wilgers, populiere en die beukehoutfamilie. Die eerste klompe-gilde was reeds in 1570 in Nederland aanwesig.
Die gebruik om verslete klompe as brandhout te gebruik, het dit moeilik gemaak vir navorsers om ʼn presiese datum te bepaal vir die oorsprong van klompe. Dit lyk egter of die eerste, bekende klompe sowat 850 jaar oud is en van die oudste voorbeelde is in Nieuwendijk en Amsterdam gevind. Die houtskoene het in ʼn verskeidenheid van vorms en groottes voorgekom met die doel om voete droog, warm en beskerm te hou. Die klompe was ietwat groter as die draer se voet aangesien dik sokkies gedra is; soms is strooi ook in die houtskoene gesit om die voete warm te hou.
www.taalmuseum.co.za