Vrouemaand bereik hoogtepunt met viering van Fenomenale Vroue

by | Aug 25, 2023 | Afrikaans tuisblad, Argief

Taalmonument en andere vereer 16 tydens glansdinee

Na aanleiding van die sukses van die eerste Fenomenale Vroue-toekennings van die Kaapse Wynlande-distrik verlede jaar, het die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), in samewerking met die Historium Trust en die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit (KWDM), weereens aan 16 fenomenale vroue van die gemeenskap hulde gebring.

Die toekenningseremonie is op Woensdag, 23 Augustus 2023, in die Paarl gehou waartydens die nege wenners en sewe naaswenners aangekondig is en die merkwaardige prestasies van hierdie wonderlike vroue gevier is.

“Nasionale Vrouedag in Suid-Afrika word hoog geag en dien as ’n herinnering aan die groot bydrae van vroue in Suid-Afrika; dit is terselfdertyd ’n geleentheid om opnuut te besin oor die regte van vroue,” het Michael Jonas, direkteur van die ATM, in sy openingstoespraak gesê. “Die rol van vroue in die samelewing is van kardinale belang. Hulle lewer merkwaardige bydraes tot gemeenskappe, families en die samelewing in sy geheel. Vroue is die ruggraat van gesinne en gemeenskappe. Dit is waarom dit vir ons belangrik is om vroue in ons gemeenskappe op hierdie skaal op te hef en te vier. Baie geluk aan al die wenners en naaswenners.”

In haar hooftoespraak het die uitvoerende burgemeester, Rdh Elna von Schlicht, gesê: “Dis vir my ’n ongelooflike plesier om ons fenomenale wenvroue van die Kaapse Wynlande-distrik asook die uitstaande naaswenners hartlik geluk te wens. U merkwaardige prestasies en bydraes het ons gemeenskap opgehelder en ons almal geïnspireer om beter te doen. Hierdie toekenning is nie alleen ’n erkenning van u individuele suksesse nie, maar plaas ook klem op die kollektiewe krag van vroue wat aanhou om hindernisse af te breek en te herdefinieer wat in ons gemeenskappe moontlik is. U verhale dien as ’n baken van hoop en bemagtiging vir toekomstige geslagte, en herinner ons dat daar geen perke is aan wat ons kan bereik nie. Ons bring ere aan u en u prestasies, en mag u aanhou om helder te skyn en diegene rondom u te inspireer. U reis getuig van hoe fenomenaal u is.”

Paarl-Oos se Veronica Botha wat die kategorie vir die bevordering van Afrikaans gewen het, is nie net die ma van twee kinders en pleegma van ‘n baba nie, maar dig in Afrikaans sover haar werk en ander verpligtinge dit toelaat. Sy werk tans aan twee Afrikaanse radiodramas, wat sy hoop om vir RSG se 2024-kompetisie in te skryf.

Die versoek om nominasies het in Junie geopen en die publiek het die geleentheid gehad om die onbesonge heldinne te nomineer wat inspirerende werk onder gemeenskappe in die Kaapse Wynlande verrig. Die beoordelingsproses is in Julie afgehandel deur ’n paneel van drie vroue wat in eie reg fenomenaal is: Christynn Jacobs, ’n gekwalifiseerde voedseltegnoloog en die mede-eienaar van Jacob’s Jam Company in Ceres; Heidi Erdmann, ’n onafhanklike kurator en kunshistorikus; en Anetta Mangxaba, die direkteur/eienaar/uitgewer van Dizindaba Media. Hierdie beoordelaars het die moeilike taak gehad om uit meer as 60 oortuigende nominasies die wenners en naaswenners te bepaal.

Die toekenningseremonie, gelei deur TV-aanbieder Heindrich Wyngaard van Klop! op KykNET, is deur wenners en naaswenners – wat vergesel is van ’n geliefde, dikwels die persoon wat hulle genomineer het – asook lede van die vennootorganisasies en spesiale gaste bygewoon. Twee motiverende sprekers het hul inspirerende verhale gedeel: Charlene Elliot, stigter van Fit me Fitness en Life of Giving Charity Shop asook skoolhoof van ’n VKO- en nasorgsentrum in die Paarl, en Felicity Fransman, Fenomenale Vrou in Tersiêre Onderwys vir 2022 en stigter van Passion Abundance Angels in Worcester.263

Die wenners en naaswenners het geskenke ontvang van die KWDM, ATM, Historium Trust, Jacob’s Jam en Ou Mutual. Hulle is:

Fenomenale Vrou in die Landbou

Wenner

Denise Stubbs

Pniel, Stellenbosch

Fenomenale Vrou in Vroeëkinderontwikkeling

Wenner

Jesika Jones

Vlottenburg, Stellenbosch

Naaswenner

Yvonne Jaftha

De Doorns, Breedevallei

Fenomenale Vrou in Basiese Onderwys

Wenner

Anelma Johnson

Ashbury, Langeberg

Naaswenner

Tertia Davids-Minnies

Worcester, Breedevallei

Fenomenale Vrou in die NRO-/GOW-sektor

Wenner

Zenani Mithi

Kayamandi, Stellenbosch

Naaswenner

Sienna Charles

Kylemore, Stellenbosch

Fenomenale Vrou as Entrepreneur

Wenner

Adele Kitshoff

Worcester, Breedevallei

Naaswenner

Fallon Fion Taff

Paarl, Drakenstein

Fenomenale Vrou in Ondersteuning

Wenner

Marizaan Bredenkamp

Wellington, Drakenstein

Naaswenner

Leezil Laubscher

Wellington, Drakenstein

Fenomenale Vrou in Bestuur

Wenner

Janine Myburgh

Pniel, Stellenbosch

Naaswenner

Nina Schumann

Stellenbosch

Fenomenale Vrou van Passie

Wenner

Valerie Fernandez

Cloetesville, Stellenbosch

Naaswenner

Paulina Basson

Wolseley, Witzenberg

Fenomenale Vrou in die Bevordering van Afrikaans

Wenner

Veronica Botha

Paarl, Drakenstein