Vrydag was ‘n spesiale dag vir sowat 60 plaasvroue toe die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ‘n ete, vermaak, geskenke en besoek aan die ikoniese monument ter viering van Vrouemaand vir hulle moontlik gemaak het. Een besoeker, Rachel van Wyk, het die dag as leersaam en prettig beskryf. “Ons leer nog altyd, al is ons oud,” het sy gesê. Nog ‘n besoeker het die hele dag, waaronder haar eerste besoek aan die monument, as ‘n absolute voorreg beskryf. “Ons het dit nie geken nie, want in ons werkplek is dit net werk toe, huis toe, werk toe…ons is baie dankbaar vir hierdie geleentheid.” Die vroue is toegespreek deur Beverley Farmer, eienaar van Women in Wine. Farmer se maatskappy – die eerste wynprodusent wat slegs deur vroue besit en bestuur word – speel ‘n groot rol om beter werksomstandighede, vaardighede en erkenning vir vrouens in die wynbedryf te bewerkstellig. Die dag is een van die Taalmonument se projekte om na plaaslike mense uit te reik en sodoende relevant te wees vir die gemeenskap waarin ons onsself bevind.
www.taalmonument.co.za