Van Rieldans tot Rymklets

by | Nov 18, 2016 | Archive, Argief

Van Rieldans tot Rymklets in die Taalmuseum 

Kliek hier vir ‘n inligtingsboekie (pdf)

By die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl kan besoekers deesdae terugloop op die spoor van die taal soos dit in die Afrikaanse lied gehoor kan word. Van volkspele tot die rieldans, die Klopse tot Afrikaanse rock en rymklets is te sien én te hoor in “Van Rieldans tot Rymklets”,  die jongste toevoeging tot dié museum se permanente uitstalling.

Met hierdie uitstalling wil die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) die geleidelike vorming en verandering van die taal illustreer deur die gesproke woord in Afrikaanse musiek na te spoor. Dit sluit in spesifieke grensverskuiwende genres wat die dinamiese groei van die taal duidelik uitbeeld en sekere tydperke in die geskiedenis verteenwoordig. Dit is interessant om te ervaar hoe moderne kunstenaars bou op die musikale tradisie wat in Suid-Afrika ontwikkel het oor meer as drie eeue, en dit in hul werk insluit.

Uiteraard kon alle Afrikaanse kunstenaars en genres nie insluit word nie weens ’n gebrek aan ruimte. Dié wat wel gekies is, bied egter ’n verteenwoordigende en oorsigtelike beeld van die taal se geskiedenis in musiek.  Die kleurvolle, drietalige uitstalling ( Afrikaans, Engels en isiXhosa) sluit in foto’s van kunstenaars, lirieke, ’n keurspel van liedjies en interessante artefakte, waaronder ‘n miniatuur David Kramer blikkitaar uit die jare tagtig, Die Heuwels Fantasties se eerste goue album en die kitaar waarop Chris Chameleon Ingrid Jonker se gedigte getoonset het.

‘n Boekie ter opsomming van die uitstalling is by die Taalmuseum en -monument te koop, en die pdf-weergawe kan gratis van die Taalmuseum se webwerf afgelaai word.

Die Taalmuseum in Pastorielaan, Paarl, is oop van Maandag tot Vrydag van 08:30 tot 16:30. Begeleide toere word met voorafbespreking aangebied. Vir meer inligting, skakel tel. 021 872 3441 of besoek www.taalmuseum.co.za.

‘n Paar interessanthede uit die uitstalling:

  • Volksliedjies is populêre, eenvoudige liedjies wat deur ‘n hele gemeenskap gesing word. Aangesien die woorde en wysies mondeling van een persoon na ‘n ander oorgedra word, verander die woorde dikwels. Hoewel die oorspong van hierdie liedjies dikwels onseker is, kan dit wel soms na ‘n spesifieke skepper teruggevoer word, soos die liedjies wat die bekende Chris Blignaut in die vroeë dekades van die twintigste eeu geskryf het.
  • Die riel is ‘n baie ou dansvorm wat deur die Khoi gedans is, en het ‘n sterk ooreenkoms met die Skotse riel (of Scottish reel), vandaar die naam. Die dansers skep hul eie liedjies, wat die dans begelei. Volgens rieldanskenner Elias Nel kan die hedendaagse vorm van die dans direk herlei word na die danse wat die Khoe en San vanmelewe al sirkelend om die vuur ná ’n goeie jagtog of oes, of by een van die vele godsdienstige rituele en feeste gedans het.
  • Die Klopse-tradisie het ontstaan uit die tradisionele optogte van die destydse slawe deur die strate van Kaapstad op Nuwejaarsdag. Vir talle slawe was dit hul enigste vakansiedag van die jaar. Daar bestaan geen eenstemmigheid oor die oorsprong van die naam Klopse nie. Sommige mense beweer dat dit aansluit by die klop-klop van die tromme.
  • Dr SH Pellissier het in 1912 tydens ‘n besoek aan Swede gesien hoe die mense saans ná werk in tradisionele drag dans en sing, en was begeesterd om ook vir Suid-Afrika ‘n eie volksdanskultuur te skep. Die heel eerste volkspele-byeenkoms het op 28 Februarie 1914 op die plaas Vuisfontein naby Boshof in die Vrystaat plaasgevind. Die woord “speel” is destyds gekies in plaas van “dans” om in die kerk se goeie boekies te bly! Daar bestaan vandag nog 68 volkspele-laers met ongeveer 1 320 lede in Suid-Afrika.
  • Hollandse liedjies is tot aan die einde van die 19de eeu algemeen in Suid-Afrika gesing, maar die lirieke het baie vroeg al begin verafrikaans. Sommige vroeg twintigste-eeuse liedjies, soos Die Trein na Pretoria, was die toppunt van sentimentaliteit, en is die “smartlappe” genoem.
  • Sedert die twintigerjare is kunswedstryde aangebied om die Afrikaanse lied te bevorder. Dit was ‘n bloeitydperk vir die kunslied in Suid-Afrika.
  • Op ‘n stadium is Afrikaans as veragtelik beskou, en was dit hoogmode om Engels te praat en te sing. Afrikaanse musiek het tot ‘n groot mate vervlak en baie min oorspronklike liedere is geskep. Vir die luisteraar wat ten alle koste Afrikaanse lirieke wou hoor, is Engelse liedjies in Afrikaans vertaa Die liedjie Die padda wou gaan opsit” deur Groep Twee, ‘n vertaling van “Froggy went a courtin”, was baie gewild.
  • Die Kaapse Maleierkore, wat al in 1887 geformaliseer is, het dwarsdeur die apartheidsjare volgehou om nuwe liedere in Afrikaans te skep. Volgens hul grondwet mag hulle slegs Afrikaanse en Nederlandse liedere sing, en sodoende lewer hulle ‘n groot bydrae tot die voortbestaan van Afrikaans.
  • In die 1970’s het ernstiger musikante wêreldwyd beweeg na musiek met ‘n dieper betekenis wat universele temas aanspreek, en so het die luisterliedjie (folk-musiek) ontstaan. Volgens sanger en musiekkenner Jannie du Toit is die luisterlied ‘n gedig wat op ligte musiek getoonset is, in teenstelling met die kunslied; ‘n gedig wat op ernstige musiek getoonset is.
  • In die tagtigerjare het ‘n nuwe musiekrigting ontstaan as protes­beweging teen die apartheidsideologie van die regering. Die sogenaamde “alternatiewe” rock-kunste­naars wou deur hul musiek die valsheid en pretensie van konserwatiewe Afrikanerdom ontmasker en daarmee die spot dryf. Hulle was veral in opstand teen die Nasionale party, die Weermag en die Kerk.
  • As ‘n relatief nuwe verskynsel, is Afrikaanse rymklets (rap) besig om vinnig te versprei en al gewilder te word. Rymklets lewer intens-persoonlike kommentaar op die samelewing, en het die lewe op straat as onderwerp. . Prophets of da City (POC) en Brasse vannie Kaap word as die pioniers van Afrikaanse rap beskou.