Van draadloos na draadloos – ná 80 jaar is Afrikaanse radio steeds vreesloos

by | Okt 23, 2017 | Afrikaans tuisblad, Archive, Argief

Van draadloos na draadloos – ná 80 jaar is Afrikaanse radio steeds vreesloos

Oktober is nie net die mooiste maand nie, maar vanjaar is dit boonop die viering van die 80-jarige bestaan van die eerste volledige Afrikaanse radiodiens. En waar ‘draadloos’ destyds verwys het na die radiogolwe wat die soet Afrikaanse bloeisels oor die lug vervoer het, verwys dit deesdae na die internetverbindings waardeur RSG (Radio Sonder Grense) en talle ander Afrikaanse radiostasies wêreldwyd via rekenaars, tablette en slimfone gehoor kan word.

Tog was dit ’n stryd om die eerste sender van stapel te stuur weens die onafwendbare drama, tegniese probleme en kritiek. Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) is op 1 Augustus 1936 gestig, maar voor dit was daar radio-pioniers, onder andere die ingenieur Hendrik van der Bijl, en het die Suid-Afrikaanse Spoorweë & Hawens in Desember 1923 radiokonserte vanuit Johannesburg uitgesaai.

Toe die SAUK in die lewe geroep is, is bepaal dat die korporasie die Engelse en Afrikaanse kultuurgroepe gelyk moes behandel (die ander tale se senders het eers later gevolg). Om daardie verpligting na te kom, het die omroepers in ál hul aankondigings die twee destydse landstale om die beurt gebruik. Dit het heftige protes van luisteraars uitgelok, en gou was dit duidelik dat hierdie vermenging van tale almal irriteer. Derhalwe het die SAUK besluit om ‘n tweede programdiens, die ‘B-program’ met Afrikaans as voertaal, te begin. Dit was ‘n reusetaak vir die jong korporasie, skaars ‘n paar maande oud, met slegs ‘n paar senders, gehuurde ateljees én skuld in plaas van geld. Maar die probleme is met vasberadenheid aangedurf. ‘n Landswye soektog na omroepers is op tou gesit, en tegelykertyd is twee kortgolfsenders — een op Klipheuwel (naby Malmesbury) en die ander op Robertshoogte (tans Thaba Tshwane) – van die Poskantoor gehuur. Die groot eer het die Moederstad te beurt geval, en om half-elf die oggend van 25 Oktober 1937 het Kaapstad ‘n nuwe era ingelui deur die eerste voltydse Afrikaanse Diens, Radio Suid-Afrika (nou RSG), te loods. Die Burger het die nuus op 26 Oktober op die voorblad aangebied onder die opskrifte: ‘Baken op Afrikaanse opwaartse pad / Eie radio-sender gister in gebruik geneem / Historiese geleentheid onder intense spanning.’ Volgens die berig is daar “vir Afrikaans ʼn slag gelewer wat gelykstaan met ander groot ligbakens op ons taal se opwaartse pad”.

Op 1 Desember van dieselfde jaar het die Goudstad ook met ‘n B-program begin, en toe kon Afrikaans elders in die land ontvang word. Met slegs twee kortgolfsenders tot sy beskikking, kon die Afrikaanse Diens op verre na nie almal bereik nie — om die waarheid te sê, sy dekkuip was aanvanklik uiters beperk.

Maar 80 jaar later is dit g’n probleem nie: nóú kan enigiemand met ’n internetverbinding enige plek ter wêreld enige tyd van die dag op ’n swetterjoel Afrikaanse radiosenders, insluitende RSG (http://web.sabc.co.za/digital/player/1.0/rsg/index.html) inskakel. Afrikaanse radio: Vreesloos, tydloos en draadloos.

343A 461LU V4A 338A

’n Paar voorbeelde van die Nederlandse Philips radios uit die laat 1930’s. Van links na regs is die modelle 343A, 461LU, V4A en 338A. Foto’s: www.vintagephilipsradio.co.za

 

Bronne: wikipedia.com
Trouwe Afrikaners (1987) deur JC Steyn
Triomf Van Afrikaans As Radiotaal deur Gideon Roos