Taalmuseum skenk 1400 boeke aan Noord-Kaapse skole

by | Sep 12, 2016 | Afrikaans tuisblad, Archive, Argief

Sewe skole in die Noord-Kaap het van 5 tot 11 September 2016 Nasionale Boekweek en Internasionale Geletterdheidsdag in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) van die Paarl gevier.

Die ATM se Laat ons Lees!-projek en Biblionef Suid-Afrika het aan dié sewe skole op De Aar, Philipstown, Petrusville en Vanderkloof 200 boeke elk geskenk. Die skole is Keurtjiekloof, Petrusville, Visisani, Philipvale, Hayes, Emthanjeni en Kareeville primêre skole. Die ATM het ook by elke skool ‘n program oor die belangrikheid van boeke, lees en museums aangebied.

Volgens Janine Brown, opvoedkundige beampte van die ATM, is die doel van die projek om ’n leeskultuur aan te kweek, ’n liefde vir boeke aan te wakker en ’n omgewing te skep waar leerders tuis voel tussen boeke. Die ATM het reeds duisende kinders bereik sedert ‘n loodsprojek in 2013 van stapel gestuur is.

Die projek is gemik op skole en gemeenskappe in landelike gebiede waar daar ’n tekort aan boeke en leesgeriewe is. Longyuan Mulilo De Aar Wind Projects is ook ‘n vennoot, wat wiskunde- en wetenskapboeke aan skole skenk. Op Porterville, Wellington en in die Paarl verskaf die ATM boeke aan volwassenes wat een keer per week vir groepe kinders voorlees.  Die ATM doen ‘n beroep op die publiek, boekewinkels en uitgewers om boeke vir die leesprojek te skenk – enige boek in enige taal, oud of nuut.

Die ATM is ook besig met ‘n projek om die mondelinge oorlewering van inwoners in die Emthanjeni- en Renosterberg-munisipaliteite op te teken as deel van ‘n groter projek om die Noord-Kaapse kultuur en erfenis uit te bou en te bewaar deur middel van boekstawing.

Vir meer inligting, kontak Janine Brown by 021 872 3441 of opvoeding@taalmuseum.co.za.