Taalmonument se suksesvolle boekherstelwerkkursus

by | Okt 1, 2021 | Afrikaans tuisblad

Die Afrikaanse Taalmuseum en -Taalmonument het weer ʼn kursus, met die fokus op gevorderde tegnieke soos leerbind- en bladgoudwerk, vanaf 27 tot 29 September 2021 aangebied. Die kursus was bygewoon deur 18 entoesiastiese deelnemers.

Tydens die tweetalige driedagkursus het deelnemers onder meer drie boeke gemaak, Solanderbokse gebou, stikwerk van bladsye gedoen en baie meer oor boekherstelwerk geleer. Ingesluit was basiese konsepte, werksprosedures asook demonstrasies van en praktiese oefeninge in skutblaaie, boekbindwerk, leerbindwerk, omhulsel afronding en bladrugsteun.

“Ongelooflik leersame kursus! Dis lekker om saam passievolle mense te werk,” het een deelnemer, Anrika Alexa Snyman, rakende die kursus gesê.

Die ATM bied jaarliks ʼn reeks kursusse en werkswinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Vanjaar se program sluit ook onderwerpe soos fotografie in. Voorstelle vir bykomende werkswinkels oor soortgelyke onderwerpe is welkom. Sien www.taalmonument.co.za vir meer inligting en volg hulle op Facebook vir al die ander opwindende geleenthede wat by die Taalmonument plaasvind.