Taalmonument Koorfees

by | Mar 29, 2018 | Archive, Argief

Taalmonument Koorfees 2018 klein

Taalmonument Koorfees beloof luisterryke sang uit die boonste rakke
15 kore gaan koormusiek onder groter gehoor bevorder

ʼn Opwindende musikale eerste vind op 14 April plaas wanneer die Afrikaanse Taalmonument ʼn koorfees in die Amfiteater op Paarlberg aanbied. Bekende en opkomende skool- en gemeenskapskore gaan hul beste note voorsit om individueel en gesamentlik gaste met ʼn wye verskeidenheid musiek te vermaak.

“Een van die doelwitte van hierdie fees is om koormusiek te bevorder,” sê Christine Bam, mede-organiseerder en self ʼn mezzosopraan en stemafrigter. “Daar is geen kompetisie of beoordeling gekoppel aan hierdie geleentheid nie. Dit is ʼn lekker saamsing-fees waar kore kan kom sing, die dag geniet en kan netwerk met ander kore.”

Die dag bied ook ʼn geleentheid aan kore om deur middel van kaartjieverkope fondse in te samel, terwyl dit verder vir leerders, hul gesinne en die wyer publiek ʼn kans gee om hul musiekliefde met mekaar te deel. Die 15 kore is van Frank Pietersen Musieksentrum, Hoërskool Brackenfell, Hoërskool DF Malan, Hoërskool Jan van Riebeeck, HTS Drostdy, Hoërskool Namakwaland, Junior Campus Private School, Kensington Chorale Girls, LMS La Rochelle, Paul Roos Gimnasium, Protea Heights Academy, Saxonsea Primêr, Paarl Seunsskool, Hoërskool JG Meiring en die Oos-Distrik Gemeenskapskoor. Die amptelike opening is om 18:00 waarna al die kore individueel gaan optree voordat hulle afsluit met ʼn massakoor werk ‘Amavolovolo’, soos verwerk deur Rudolf de Beer. Die hoop is dat hierdie fees ʼn jaarlikse instelling gaan word.

Kaartjies, R120 vir volwassenes en R60 vir kinders onder 12 jaar oud, kan tot 11 April by die deelnemende skole gekoop word, waarna dit by Computicket en op die dag self by die Amfiteater se hekke beskikbaar sal wees. Die hekke open om 17:00 vir die publiek en talle stalletjies sal in besoekers se spys- en drankbehoeftes voorsien. Besoekers word versoek om warm kleding te bring. Helaas word geen vure, honde, eie kos of drank toegelaat nie. Toegang word beheer en voldoende parkering is beskikbaar.

Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.