ʼn Monument vir Afrikaans en vakmanskap
Die jaarlikse herdenking van die Afrikaanse Taalmonument se inwyding op 10 Oktober 1975 is ʼn kans om die geskiedenis vierkantig in die oë te kyk, skryf direkteur Michael Jonas en kurator Chantelle de Kock. Vanjaar, byvoorbeeld, word die bouers se bydraes as deel van ʼn rondreisende uitstalling erken en geëer.
“EK was so surprised toe jy my bel oor die Taalmonument. Ek kon nie glo dat ná al die jare die mense na ons toe kom nie, nou 40 jaar later. Vir my was dit eintlik ’n blydskap.”
Só reageer mnr. Ernie Williams, een van die bouers, toe die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) hom die afgelope tyd genader het as deel van ʼn mondelinge oorleweringstudie oor die vakmanne wat die monument gebou het. Nes die geskiedenis uitgebreid vertel oor konings en oorloë, maar min oor gewone mense, is dit ook die geval met dié bouers. Daarom die poging om aan die “onbekendes” wat dié grootse projek uitgevoer het, erkenning te gee.
Die stigtingsgeskiedenis en rol van argitek Jan van Wijk is welbekend, en die Taalmuseum se argief het baie inligting oor die komitees wat vanaf 1942 die proses gedryf het tot en met die inwyding van die monument, als is in die fynste besonderhede. Wat egter ontbreek is die rol van die onbesonge helde – die vakmanne, die werklike oprigters.
Mense soos byvoorbeeld mnr. Noyitini Kaai Maquelana, die toesighouer vir die Xhosasprekende werkers wat met beton gewerk het. Maquelana, oorspronklik van die Oos-Kaap en intussen oorlede, was Afrikaans magtig en het ook as tolk opgetree. Hy het ook mnr. Tom Siebrits, tydhouer, vergesel na die Oos-Kaap om werkers te haal; met hul terugkeer is die mans in die White City-hostelle in Mbekweni by die Paarl gehuisves.
Al was hy ʼn belangrike skakel in die bouproses van ʼn monument vir Afrikaans, is hy steeds aan die vernederings van apartheid onderwerp, soos die dra van ʼn pasboek, laer besoldiging en “swart” behuising. Sy seun, mnr. Eugene Maquelana, het vertel dat sy pa desondanks verheug was oor sy bydrae. “Ons het baie Taalmonument toe gery, want hy was baie trots om dit altyd vir mense te kon wys en te sê ‘ek was deel hiervan’.” Staalvlegger Moegamat Benjamin beskryf ook sy bydrae soos volg. “Die grootste oomblik in my lewe was toe hulle [die monument] geopen het; ek was deel van die opening en kon sê: ‘Dis my handewerk wat daar staan.’”
Ses-en-veertig jaar later weerklink Jan van Wijk, argitek van die Taalmonument, se woorde steeds: “…want die tyd vir die rolspelers loop uit en netnou, netnou word die verhaal net verdigsel, eie vertellings en bespiegelings oor dit wat daar tydloos, datumloos teen die berg in die Paarl staan”.
Vir al haar sondes, het die monument minstens nooit enige rasgroepe verbied om besoek af te lê of die inwyding by te woon nie. Maar in die aanloop tot die oprigting daarvan was daar helaas wel wit Afrikanernasionaliste wat die taal se geskiedenis verder wou kaap deur Afrikaans se Afrika- en Suidoos-Asiatiese wortels te ontken. Die idee van ʼn monument is boonop van die begin af gekonfronteer deur argumente teen haar bestaan. Dat dit wel opgerig is, weerspieël die vasberadenheid om met staats- en gemeenskapsgeld Afrikaans simbolies as ʼn inheemse taal op die kontinent te verewig, ʼn situasie wat gegewe onlangse regeringsuitsprake steeds pertinent is. Wat dit selfs meer merkwaardig maak, is die destydse onderstrominge, botsende ideologieë en eens diep verdeelde taalgemeenskap wat dit moes dien. In teenstelling met tradisionele wit Afrikanermonumente soos die Voortrekkermonument, kon Van Wijk gelukkig voorsiening maak vir die uiteenlopende bydraers tot Afrikaans se totstandkoming.
Die 1970’s was egter ʼn spanningvolle en onstuimige periode in die land en die Paarl se geskiedenis. Gemeenskappe was letterlik in twee geskeur. Een deel van die taalgemeenskap was aan die veg vir basiese politieke en menseregte, terwyl die ander segment oënskynlik besig was met ʼn onafhanklike staats- en gemeenskapsgedrewe projek wat gerig was op die skep van ʼn gemeenskaplike geheue en kultuurgeskiedenis. Hierdie gebeure sou verreikende gevolge vir die verhoudings tussen die onderskeie gemeenskappe hê.
Dit wil voorkom dat die monument dieselfde patroon van insluit en uitsluit van sekere rasgroepe ingevolge die apartheidsbeleid en konteks van die tyd gevolg het. Die opening van die monument was ʼn skouspel in die ware sin van die woord, een wat volgens die historikus Leslie Witz “apartheid South Africa as a harmonious multicultural society” wou belig. Dit sou egter die tweedelaaste groot “apartheidsfees” wees; in 1988 volg die Diasfees (Bartolomeus Dias se “ontdekking” in 1488 – 500 jaar) in dieselfde jaar wat die Groot Trek (1836 – 150 jaar) en aankoms van die Franse Hugenote (1688 – 300 jaar) ook herdenk word. Opgewonde Afrikaanse koerantberigte in 1975 het gelei met “40 000 by die Taalfees, onvergeetlik groots”, “Ons het ʼn reg om hier te wees, sê Vorster”, “Menigte huldig Afrikaans” en “Op die spoor van die taalmanne”.
Hoewel sekere kore uit bruin en ander Afrikaanse gemeenskappe by die openingseremonie betrokke was, is dit onwaarskynlik dat lede van die bruin gemeenskap op die amptelike beplannings- of reëlingskomitees was. Omrede dit ʼn Afrikaanse projek was, ondersteun deur die NP-regering van die dag, is sekere terrasse gereserveer vir die bruin gemeenskap (apartheid was nog lank nie dood nie). Tog berig ʼn koerant soos volg: “Die terrasse vir die bruinmense was nooit heeltemal vol nie, hoewel daar ʼn aansienlike getal was en daar bruin deelnemers was wat ʼn beduidende aandeel gehad het in die verrigtinge.”
Dit is hierdie terloopse verwysing na die bruinmense, en die voorafgaande polemiek oor wie die fees mog bywoon, wat ʼn wrang smaak gelaat het. Vooraanstaande wit Afrikaanse skrywers het voor die tyd gedreig om die verrigtinge te boikot as bruin skrywers nie ook genooi word nie. Uiteindelik is verskeie bruin skrywers en verteenwoordigers van ander sektore van die bruin gemeenskap genooi, en het ’n beduidende aantal van hulle, ook groot getalle bruin skoolkinders, die verrigtinge bygewoon. Sekere wit en bruin skrywers het egter steeds weggebly.
Maar dit was toe, wat van nou? Museums en monumente versimboliseer identiteit en kultuur, en is dus ʼn sleutel tot die vertolking van ʼn nasie se verlede. As moedertaal spog Afrikaans met die grootste rassediversiteit van alle tale in die land. Dit kan as ʼn pluspunt gesien word, maar in die geval van die ATM bied dit sekerlik een van haar grootste uitdagings, want hoe bewerkstellig ons ʼn omgewing waarbinne maatskaplike samehorigheid, taaltrots en inklusiwiteit geskep word?
Beide die museum en monument streef daarna om danksy ʼn wye spektrum van werksaamhede die volledigste verhaal moontlik te vertel rakende die ontstaan, ontwikkeling en dinamika van die taal. Die monument as struktuur het nie verander nie, maar sedert veral 1994 het die interpretasie daarvan wel. In sekere kringe word dit steeds as ʼn manifestasie van wit Afrikanernasionalisme gehuldig, maar die realiteit is dat die taal en monument toenemend teruggeëis word deur die geheel van die sprekers. Voorts is ons voortdurend besig om as deel van die groter dekolonialisasieproses die bestaande hiërargieë rakende die inhoud van die narratief aan te spreek, uitstallings meer verteenwoordigend te maak en waarde toe te voeg tot die samelewing en kultuur.
Met vandeesmaand se herdenking van die Taalmonument se inwyding wil die ATM hulde bring aan die historiese gemarginaliseerde bouers van die monument. Ons het reeds so veel moontlik van hulle vanjaar op ʼn seremonie vereer en aan hulle of familielede “paspoorte” oorhandig wat hulle lewenslange toegang tot die ATM en geleenthede verleen.
Tydens die onderhoude wat met hulle gevoer is, kon mens hoor dat hulle ʼn goeie verhouding met medewerkers gehad het en trots is op hul vakmanskap. Dit is dus nie net ʼn monument vir Afrikaans nie, maar ook vir goeie vakmanskap. Ten spyte van die omstandighede en harde werk (of dalk danksy dit) was daar volgens die mondelinge oorleweringsprojek se deelnemers ’n baie goeie gesindheid onder die span. Die bouperseel was ʼn unieke kontaksone van uitlopende tale, kulture en identiteite – ondanks die verskille in besoldiging asook ekonomiese en maatskaplike status, was die bou van die monument vir een van die taalwonderwerke van die wêreld ʼn samebindendefaktor wat ons eer.
Die laaste woorde behoort ook dan aan die bouers.
Ons manne wat daar gewees het, was baie lief vir mekaar. Ons het nooit baklei nie. As een vra help gou hier, dan help ons mekaar.” – Abraham Plaatjies, bouer en messelaar
“[Jack van Zitters, lugdrukhamer-operateur] was baie trots om deel te kon wees van die bou van die Taalmonument en het altyd vir ons as kinders gesê dat Afrikaans ’n lewende taal is. Sou hy vandag nog geleef het, sou hy beslis baie trots gewees het, want uiteindelik word die werk van die ambagsmanne ook erken.” – André van Zitters, seun
“Dit was fantasties om daai ding te gebou het. Ons was ’n goeie span bymekaar.” – Ernie Williams, skrynwerker
“Die Taalmonument is die één projek van my loopbaan waarop ek baie trots is, deels omdat dit so ’n uitsonderlike projek was en deels omdat dit ’n monument vir ons mooi taal, Afrikaans, is.” – Victor Hugo, voorman
“Die voetsoldate en werklike arbeiders word gewoonlik vergeet. Ons sê baie dankie vir julle en hierdie projek – dit word hoogs gewaardeer. Almal was bly om [destyds] werk toe te gaan, want daar was gelukkigheid, daar was vreugde.” – Mntumni Mbobo, algemene werker en trokdrywer
- Die uitstalling is te siene by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl, maar www.taalmonument.co.za bevat ook plasings oor en aanhalings van die bouers.