Ter viering van Boomplantdag 2021 het die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) hul bewusmakingsveldtog rakende erfenisterreine en die belangrikheid van ekosisteme verder gevoer deur op 22 September bome aan Soetendal Primêr, Simondium Primêr, St Albans Primêr, LK Zeeman Primêr en Nederburg Primêr te skenk. CapeNature en die Kaapse Wynland Biosfeerreservaat het ook ’n spesiale opvoedkundige program by Soetendal Primêr aangebied.
Boomplantdag, ’n nie-amptelike gedenkdag waarop mense bome plant, word in baie lande gevier en skoolkinders neem dikwels deel. Op die dag word bosbou en bome in die algemeen beklemtoon, terwyl die gevare van bosbrande uitgelig word. Dit is ‘n gulde geleentheid om ‘n nuwe boom te plant, een te borg of om voeding en kompos by bestaande bome in te werk. Hoewel dit gewoonlik in die lente plaasvind, hang die presiese datum af van die klimaat en plantseisoen van die plek waar die dag gevier word.