Vyf gelukkige deelnemers sal jaarpermitte en geskenkpakke ontvang
In die aanloop tot die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se opwindende 50ste jaarvieringe in 2025, het die instelling en die Historium Trust vanjaar ‘n logo-ontwerpkompetisie geloods waarvoor R10 000 op die spel is. Nou, ter ere van Taaldag 2024*, is die top-vyf (Cameron Gertse, Daniel Petrus van Zyl, Jude Amori Swanepoel, Joseph Johannes Slazus en Kate Gannaway) uit 35 deelnemers gekies en vra ons die publiek om hul insette via ‘n peiling te lewer, waarvoor daar ook pryse toegeken gaan word.
Klik op die peiling hier teen 23:59 op 15 September op die laatste en kies watter een van die logo’s jý dink vanaf 2025 tot 2030 deur die ATM gebruik moet word op hul handelsvoorraad, kleding, briefhoofde, sosiale media en webtuiste. En terwyl jy hiermee besig is, volg sommer ook die ATM op Facebook en Instagram vir die jongste gebeure en eersdaagse geleenthede, veral met die groot Afrikaans 100-feesvierings volgende jaar om die taal se eeu as amptelike taal te herdenk. En om uit te vind of jy gewen het!
In ruil hiervoor sal 5 stemmers danksy ‘n lukrake geluktrekking op 30 November 2024 jaarpermitte en geskenkpakke ontvang. Die permitte sluit onbeperkte besoeke na die monument, museum en bistro asook toegang tot die Volmaanpieknieks vir twee mense vir ‘n volle jaar in. Bepalings en voorwaardes by taalmuseum.co.za.
* Op hierdie dag 149 jaar gelede, 14 Augustus 1875, is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die huis wat nou die Afrikaanse Taalmuseum huisves, gestig. Die GRA het hulle beywer om Afrikaans tot ’n amptelike en Bybeltaal te verhef.
C
Die ontwerp kombineer die beste van vorige monument feeslogo’s: dit behou die eenvoud van die 2015-logo terwyl dit die realisme van die 2020-logo insluit. Dit verseker dat die Taalmonument maklik herkenbaar en ‘n lus vir die oog is sonder om eenvoud in te boet.
DP
Die monument se kolomme is die inspirasie vir die klankgolwe se patroon en vorm. Dit simboliseer die woord ‘TaalMonuMent’ wat uitgespreek word. ‘Hoor! Hoor!’ is uitdrukking van steun en saamstem. Ons herdenk 50 jaar, hoor! hoor!
JA
Die ontwerp beeld die kenmerkende aspekte van die monument uit, spesifiek die drie kolomme wat vanaf die dorp onder Paarlberg sigbaar is. Aangesien talle beelde van die monument die maan in die agtergrond het, is dit geïnkorporeer omdat dit absoluut verstommend lyk.
JJ
’n Ronde formaat is die basis van die logo, soortgelyk aan die monument se vloei, meestal gebaseer op kunsstyle van die 1970’s wat uit vereenvoudigde soliede vorms en kleur bestaan. Die aansig verteenwoordig hoe ’n persoon op die hooftrappe die monument sien. Nie net in terme van skaal nie, maar ook simbolies van die verloop van tyd en verskillende invloede op die ontwikkeling van Afrikaans.
K
Die logo dra onmiddellik ‘n Afrika-flair oor terwyl dit betekenisvolle besonderhede insluit wat die monument se diverse linguistiese en kulturele erfenis weerspieël, simbolies van die invloed van Wes-Europese, Khoikhoi en ander Afrikatale. Daarbenewens is die kurwe van die brug ingesluit om die simboliese belangrikheid daarvan te beklemtoon.
- Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat onbeperkte toegang tot die ATM, bistro en Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.
- Bepalings en voorwaardes
Stem-kompetisie eindig op 23:59 op 15 September 2024
Deelnemers moet 18 en ouer wees
5 wenners sal deur lukrake trekking bepaal word en op 30 November 2024 op sosiale media en taalmuseum.co.za aangekondig word
As wenners nie binne 2 werksdae via e-posadres of selfoonnommer opgespoor kan word nie, sal die prys(e) verbeur en ander, nuwe wenners oorgedra word
Geskenkpakke moet by die Afrikaanse Taalmuseum in Paarl opgehaal word; jaarpermitte sal elektronies verskaf word
Pryse is oordraagbaar, dus kan aan familielede of vriende wat nader aan die Paarl woon, gegee word
Deelnemers word outomaties op die ATM se nuusbriewe (’n paar per jaar) ingeteken met dien verstande dat hulle ter enige tyd kan uitteken
Die finale wenner van die logo-ontwerpkompetisie self word bepaal deur ‘n mengsel van publiek se stemme en beoordelaarspaneel se insette
Beoordelaars se besluite is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie