Saturnus verhelder Taalmonument

by | Sep 30, 2024 | Afrikaans tuisblad|Argief|Eersdaagse geleenthede

Alle oë op planeet met byna 150 mane tydens piekniek gewy aan Jan Visser

Inwoners en besoekers sal die skitterende sterrehemel – spesifiek die planeet Saturnus – van nader leer ken tydens die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Sterrekykpiekniek op Paarlberg op SATERDAG, 2 NOVEMBER 2024. Dit beloof om ʼn feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees; boonop is ʼn pragtige sonsondergang en ʼn gratis besoek aan die ikoniese beeldhouwerk ingesluit, én is die aand ten bate van ʼn goeie saak.

[Hierdie piekniek word gewy aan Jan Visser, een van die stigterslede van OOG, wat op 2 Julie vanjaar oorlede is. Volgens sy medesterrekundiges was Jan nie net ‘n ware steunpilaar nie, maar het hy nooit in al die jare ‘n byeenkoms by monument misgeloop nie waar hy besoekers gulhartig met sy kennis en vriendelikheid oorrompel het. Dit sal die eerste geleentheid sonder hom wees en sy afwesigheid laat ’n groot leemte.]

Gaste sal die heelal verken met behulp van Orion Observasie Groep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope gratis deel. Die fokus is op Saturnus, die sesde planeet vanaf die son en die tweede-grootste in die sonnestelsel. Danksy sy sowat 150 mane spog hy met die meeste natuurlike satelliete; dié planeet (vernoem na die Romeinse god van rykdom en landbou) se helderheid ding boonop maklik mee met baie sterre s’n.

Die pieknieks is gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers wat veral die mooie vergesigte van die valleie, berge en skiereiland geniet. Besoekers is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ʼn piekniekmandjie by die Suikerkan via 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop.

Gaste word aangemoedig om die omgewing en uitstallings te verken en die monument – ʼn simboliekbelaaide beeldhouwerk sonder weerga – te besigtig. ʼn Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik, vind om 18:30 plaas. Daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Onthou asseblief verkykers en warm kleding; genoeg, veilige parkering is gratis beskikbaar. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die ATM se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke te skenk.

Hekke open om 18:00 waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur. Die toegangsprys is slegs R55 per volwassene en R15 vir onder-18’s/pensioenarisse – koop so gou moontlik op quicket.co.za. Kaartjies sal ook by die hek verkoop word, maar dan is voorafbespreking (021 863 0543/4809 of kommunikasie@taalmuseum.co.za) noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak word. Sterrekykpieknieks sal helaas gekanselleer word indien die weer nie saamspeel nie – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae op die dag self. Voorafgekoopte kaartjies kan oorgedra of vergoed word. Die volgende Sterrekykpieknieks is op 21 Desember en daarna op 24 Januarie, 22 Februarie en 29 Maart in 2025. Meer oor OOG by facebook.com/OrionObservasieGroep

  • Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die koffiewinkel bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte, kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.