Rookmus, Tonteldoos en Kwispedoor…

by | Jul 3, 2019 | Afrikaans tuisblad, Algemene inligting, Argief

Van Hunks en die duiwel (Beeld: Wikipedia)

Wie weet wat ʼn tonteldoos en kwispedoor is? En wie gebruik nog uitdrukkings soos “Hy maak van sy kies ‘n looikuil” (hy pruim tabak), “Hy rook soos ʼn skoorsteen” (hy rook baie), “Hy het ʼn kooltjie vuur kom haal” (hy het ʼn blitsbesoek afgelê), “Sy twak is nat” (hy misluk) of “Hy kan nie die pyp rook nie” (hy slaag nie)?

Dan is daar boonop die legende van Jan van Hunks en die duiwel. Volgens oorlewering het Van Hunks vroeg in die 18de eeu teen Tafelberg gesit en hom verlustig aan die uitsig terwyl hy gerook en rum gedrink het. Een dag toe die suidooster so kwaai waai, het daar ‘n vreemdeling by hom verby gekom en vir Van Hunks ‘n stopsel tabak gevra. Van Hunks het gespog met sy eie tabakmengsel en rookvermoë. Dit lei tot ‘n uitdaging en ‘n kwaai rokery wat dae aanhou en ‘n dik rookwolk wat eindelik Tafelberg bedek. Skielik het die uitdager sy pyp laat val en ineen gestort. Van Hunks het vooroor gebuig om die vreemdeling met ‘n sluk rum by te bring, maar toe hy die uitdager se hoed van sy kop trek, het hy horings gesien en besef dat hy met die duiwel te doen het. In ‘n helder weerligflits het beide die rokers verdwyn…en ‘n groot rookwolk agtergelaat.

Hierdie legende, wat Tafelberg se wolkkombers verduidelik, het boonop heelwat variasies. Maar waar kom die tabakrook-, pruim- en snuifgewoontes vandaan? {Die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl het talle artefakte wat met hierdie tydperk verband hou. Sien foto’s en beelde onderaan hierdie artikel}

TABAK
Die woord tabak verwys na die plant sowel as produkte wat daarvan vervaardig word. Die oorsprong van die woord is afgelei van die Spaanse naam ‘tabaco’, wat dalk op sy beurt ʼn afleiding was van ʼn woord of beskrywing in die Suid-Amerikaanse Arawaktaal. Daar is méér as 70 plantspesies in die genus Nicotiana van die familie Solanaceae (nagskadu’s), sowel as produkte wat van gedroogde tabakblare vervaardig word, soos sigare en sigarette, snuif, pyptabak, pruimtabak en gegeurde sjisja. Die belangrikste kommersiële spesie, N. tabacum, se oorsprong is in tropiese Sentraal-Amerika.

TABAKPLANT
Duisende jare voordat tabak in Europa bekendheid verwerf het, is daar reeds in die Amerikas tabak gerook vir medisinale redes en het tabak deel gevorm van sjamanistiese rituele. Met die aankoms van die eerste Europeërs in die laat 15de eeu, is tabaksaad bekom en terug geneem na Europa.
Jean Nicot (1530-1600) was ʼn Franse diplomaat wat tabak aan Frankryk bekend gestel het en die woord ‘nikotien’ is van sy van afgelei. Tabak is ook bekend gestel in Portugal in 1558 en Engeland in 1565. Aanvanklik was die gebruik medisinaal van aard, soos die Spaanse dokter, Nicolas Monardes, wat dit in 1571 as ʼn heilsame plant beskryf het wat vir 36 gesondheidsprobleme gebruik kon word!

Tabak is aan Brittanje bekend gestel deur Sir Walter Raleigh wat dit uit Virginië in Noord-Amerika in die laat 16de eeu teruggebring het. Dit was egter baie duur en slegs welgestelde mense kon dit bekostig. Namate tabak in die 17de en 18de eeu gewilder geraak en die aanvraag daarna toegeneem het, was dit later so waardevol dat dit soms as ʼn betaal- of ruilmiddel gedien het. Met die stigting van die verversingspos aan die Kaap in die 17de eeu, is tabak en rookpype as ruilmiddels vir vee aangebied en het tabak en pyprook spoedig ook ‘n belangrike rol in die Kaapse sosiale lewe gespeel.

ROOKPYPE
My pyp, my pyp, hy is my maat
Hy’s by my altyd vroeg of laat,
Hy is my troos en my plesier,
Wil ek hom hê dan is hy hier
(Anoniem)

Gedurende die 16de eeu het kleipype hul verskyning in Engeland gemaak en teen die middel van die 17de eeu was die vervaardiging van dié pype ʼn goed gevestigde bedryf. Tussen 1680 en 1700 het feitlik elke dorp en stad in Engeland pypmakers gehad. Miljoene pype is vervaardig en ook uitgevoer. Pypgrootes en voorkoms het gewissel omdat modes gedurig verander het, maar dit het ook die prys van tabak gereflekteer. So byvoorbeeld het kleiner pype beteken duurder tabak word gerook terwyl groter pype op goedkoper tabak gedui het. Met die vestiging van Engelse pypmakers in Holland gedurende die begin van die 17de eeu, het hierdie bedryf in Hollandse stede soos Haarlem, Gouda en Rotterdam aansienlik toegeneem. In Suid-Afrika is kleipype gekoop of self gemaak as mense afgesonderd geleef het. Pypstele het maklik gebreek of deurgebrand en nuwes kon gemaak word van hout, horing, been of riet.

TONTELDOOS
ʼn Tonteldoos of koletangetjie is gebruik om tabak mee aan te steek. ‘n Tonteldoos is ʼn metaalsilindertjie met ‘n vuurslag wat aan ‘n ketting daaraan vasgemaak is. Die vuurklip of vuursteen is regs bo op die foto in die fotogalery. Die vuurslag bestaan uit koolstofhoudende yster. Die vuursteen word teen die tontel gedruk of vasgeknyp, terwyl die vuursteen teen die metaal ring (vuurslag) gekap word om vonke op die tontel te laat spat. As dit werk, sal die tontel begin smeul en kan daarop geblaas word om ‘n vlammetjie te skep.

Pype is aangesteek deur die vonk van die vuursteen wat die tabak aan die brand gekry het. Tonteldose is algemeen gebruik omdat vuurhoutjies eers vanaf ongeveer 1852 algemeen beskikbaar was. ʼn Nadeel van die tonteldoos is dat die vuurstene stomp geword het. Die koletangetjie is gebruik om ’n lewendige kooltjie vinnig te vervoer om ʼn pyp of meerdere pype aan te steek.

Tabak is geberg in tabaksakke, gemaak van die vel van jong kalfies, rooikatte, dassies, meerkatte en veral robbevel. ʼn Tabaksak was ongeveer 12cm breed en daar is baie moeite mee gedoen, want dit was ʼn pronkstuk.

SNUIF
Nog ʼn gewilde gebruik was om tabak te snuif. Snuif is fyn tabak wat deur die neus ingeasem word, vandaar die naam. Die gebruik het onstaan danksy inwoners van Brasilië wat tabak in rooshout-stampers fyngemaal wat ʼn delikate houtgeur aan die snuif gegee het. Die fyn snuif is dan in lugdigte ryklik versierde beenhouers geberg. Die gebruik het na Europa oorgewaai en in die 16de eeu het die stad Sevilla in Spanje die Europese handelsmonopolie op snuifvervaardiging gehad.

Snuif is dikwels gegeur deur middels soos speserye, vrugtegeure, blomgeure en mentol gebruik. Snuifmakers het hul eie resepte en vermengings gehad wat hulle aan klante voorsien het. Snuifblikkies of -houers is gebruik om die fyn tabak in te hou – gewoonlik ʼn dag se voorraad. Welgestelde mense het pragtige snuifdose gehad van silwer, skilpaddop of hout en wat soms met emalje of klein skilderye, geset in juwele, versier was. Meeste was egter eenvoudige metaal- of papier mache-dosies met die doel om snuif droog te hou. Die Hollanders het snuif reeds in 1560 in gebruik gehad.

PRUIM
Koutabak, pruimtabak en pruimtwak verwys na die gebruik om ʼn stukkie tabak van ʼn rol af te sny en dit dan te kou totdat die pruimpie, soos wat die kousel bekend gestaan het, deurgekou en uitgespoeg is. Dit is ʼn ou gebruik wat die Europeërs in die Amerikas waargeneem het in die 15de eeu aan Europa bekendgestel het.

KWISPEDOOR
ʼn Spoegbakkie, pruimpot of kwispedoor is ‘n bakkie of houer waarin gespoeg word om van vloeistof of ‘n oormaat speeksel en slym sowel as van kousels tabak ontslae te raak. Die woord ‘kwispedoor’ is afgelei van die Portugese woord ‘cuspidor’, wat spoegpot beteken. Die gebruik van spoegbakkies het via die VOC na Holland en later na Suid-Afrika gekom.

ROOKMUS
Tydens die 1850’s het rookmusse gewild geraak en is dit dikwels saam met rookbaadjies van fluweel, pluis, merino of flennie gedra. Mans het dit aangetrek wanneer hulle gerook of ontspan het sodat hul klere en hare nie na rook moes ruik nie. Die musse is gewoonlik van velt, fluweel, wol of sy gemaak en met kleurvolle gare borduur, met ʼn tossel aan die plat bokant. Die musse is slegs in die huis gedra en is ook soms gebruik om die kop warm te hou.

GEVARE VAN TABAK
Met die verloop van tyd en vooruitgang in mediese kennis, weet die mensdom nou dat die gebruik van tabak uiters skadelik vir die liggaam kan wees.

BRONNE
Op Trek – Redakteur C Pretorius 1988
Voortrekkerlewe: Agter die skerms op die Groot Trek – R Carstens & PW Grobbelaar 1988
Vanished lifestyles, The early Cape Khoi and San – HP Steyn 1990
History of Tobacco – Wikipedia
History of Smoking – Wikipedia
Beelde en inligting ontleen aan Internet/Wikipedia, tensy anders vermeld