Die knipkuns is ʼn baie ou tradisie. Die oudste voorbeeld van ʼn papierknipsel is in China gevind en dateer uit die 400’s. Die kunsvorm het mettertyd na die Midde-Ooste versprei en het Venesië in die 1400’s via Turkye bereik. Daarvandaan het dit in die 1600’s na Noord- en Wes-Europa versprei – die knipkuns is in Nederland, Switserland, Duitsland, Oostenryk en Frankryk beoefen en die kennis hiervan is na die Kaap gebring.
In die 1800’se Engeland is papierknipsels deur jong meisies gemaak wat veral landelike en huislike tonele as temas gebruik het. Die meeste knipsels is volgens ʼn skets uitgeknip. Simmetrie in die werk is verkry deur die papier te vou, en in die 1600’s en 1700’s was die knipsels inderdaad meestal simmetries. Swart papier is die meeste as agtergrond gebruik en soms is tekstiele soos wol en fluweel ook gebruik. Knipsels is ook as bladwysers in Bybels gebruik. Baie knipsels was geraam en teen die mure gehang. Fraai knipsels het gedien as rakpapier en bordkleedjies (doilies). Spensrakke is met geknipte papier uitgerus – dikwels is koerantpapier gebruik wat gevou, geknip en dan oopgevou is om rye patrone te vorm. Om doilies te maak is die papier in vier gevou en rond uitgeknip.
Teen die 1900’s het die knipkuns in Europa egter begin kwyn. Voorbeelde van gekleurde knipsels het in Suid-Afrika bewaar gebly en in die argief van die Afrikaanse Taalmuseum word drie pragtige knipsels bewaar.
Bron:
Die Geskiedenis van Volkskuns in Suid-Afrika – JC Pretorius, 1992, Vlaeberg Uitgewers