Opname oor ‘Wie en wat vier ons in 2025?

by | Sep 2, 2024 | Afrikaans tuisblad, Video

Op die vooraand van die 100-jarige viering van Afrikaans as ’n amptelike taal in Suid-Afrika, het die Afrikaanse Taalmuseum en-monument (ATM) en Het Jan Marais Nationale Fonds ’n insiggewende taaldagbespreking op VRYDAG, 16 AUGUSTUS 2024, by die monument aangebied.

Klik hier om dié baie interessante gesprek te beleef.

Volgens die ATM se direkteur, Michael Jonas, bied die gewilde jaarlikse paneelbesprekings mense die kans om na te dink oor Afrikaans se komvandaan en kennis te neem van nuwe taalverwikkelinge. “In 2025 vier die Afrikaanse gemeenskap onder meer 100 jaar se amptelike Afrikaans, die ATM se 50ste bestaansjaar en die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) se stigting 150 jaar gelede,” sê hy. “Gegewe die omstredenheid oor sommige aspekte hiervan, is vanjaar se tema oor presies wie en wat ons vier, soos belig deur uiteenlopende kenners, juis wat ons benodig.”

Die paneellede was Christo van der Rheede, Theuns Eloff en Izak de Vries met Willemien Brümmer as gespreksleier. Van der Rheede het onder meer grade in sielkunde en tale, dien op verskeie Afrikaanse kultuurinstellings se rade en is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting. Eloff was onder meer rektor van die Noordwes-Universiteit en dien tans as voorsitter van die Dagbreek Trust, die Trust vir Afrikaanse Onderwys asook die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis. De Vries is ’n vryskutjoernalis en projekbestuurder wat betrokke is by ’n aantal instellings wat Afrikaans as ’n verwelkomende, inklusiewe ruimte bevorder. Brümmer is ’n bekroonde Afrikaanse joernalis en skrywer wie se 2008- kortverhaalbundel op die kortlys vir die Jan Rabie-prys vir innoverende skryfwerk was.

Afrikaanse Taaldag word op 14 Augustus herdenk as die datum waarop die GRA in 1875 in die Paarl gestig is in wat nou die Taalmuseum is. Die GRA het hulle beywer vir die amptelike erkenning van Afrikaans deur dit tot ’n skryf- en kanseltaal te verhef.