Sivulekile!
Tientalle opgewonde besoekers van naby en ver het die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) vandeesweek besoek nadat dit vir die publiek heropen is. Weens die Covid-19-pandemie was die instelling sedert Maart 2020 gesluit, maar dit sal nou, met in ag neming van die verpligte protokolle, kan voortgaan om hul 45ste bestaansjaar te vier en ʼn somerprogram van pieknieks ensovoorts aan te bied. Ook kan die 12 beste inskrywings vir die gewilde koronavirus-kompetisie in die Groen Galery besigtig word. Om die heropening te vier, het die ATM ʼn gratis jaarpermit aan een van die eerste besoekers gegee. Op die foto is Du Toit Beukes saam met sy dogter, Liana, en seun, Hanlo, asook Riana Dempers wat die gesinspermit namens die ATM oorhandig het. Hoewel hulle in Durbanville woon, werk Du Toit se vrou, Ilse, in die Paarl en het hulle besluit om ’n uitstappie van die dag te maak. ʼn Mobiele koffiewinkel is beskikbaar en meer inligting oor al die openingstye, afslagpryse en Covid-19-regulasies kan by www.taalmonument.co.za gesien word. Kom kuier gerus en aanskou die vergesigte terwyl die kinders hulle in die speelparke vermaak. Sien julle binnekort!