Ommietafelgesprek: Afrikaans se komvandaan

by | Jun 8, 2018 | Archive, Argief

ommietafel Taalmuseum 2018

ʼn Ope uitnodiging: Taalmonument en Vriende bekyk Afrikaans se ryke komvandaan
2018 se Ommietafel help taalheling aan

Ter viering van Taaldag bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) asook die Vriende van Afrikaans (VVA) vanjaar weer hul befaamde Ommietafelgesprek op 16 Augustus 2018 aan. Die aand se tema is ‘Afrikaans se komvandaan?’ wat sal fokus op die ontstaan van Afrikaans asook die diverse wortels van die taal. Dit is deel van die VVA se gesprekreeks waarmee hulle ʼn forum skep vir mense uit verskillende gemeenskappe en agtergronde en met diverse menings. Op dié manier neem die ATM en VVA op voetsoolvlak deel aan die proses van nasiebou en taalheling. Toegang is gratis en, soos altyd, sal daar ook heerlike spys en drank aan almal bedien word om ʼn prikkelende kuieraand sonder weergawe te help verseker.

Die gesprekleier is ATKV bestuurder Almero Oosthuizen en die inleier die aktivis dr Willa Boezak. Almal, veral jonger mense, word uitgenooi om ook ʼn bydrae te lewer, hul ervarings te deel en insette te lewer. Taaldag herdenk die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875. Die GRA het ʼn belangrike rol gespeel om Afrikaans as lees- en skryftaal te vestig en het die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, in 1876 gepubliseer. Gaste word daarom aangemoedig om ʼn kinderboek, nuut of tweedehands, saam te bring vir die VVA se Boektrommelprojek en die ATM se leesprojek, Laat ons Lees!

Die geleentheid vind op die pragtige Middelvlei Wynlandgoed, Stellenbosch, plaas waar die funksielokaal, met ʼn wonderlike uitsig op die berge, voortreflik deur die plaaswerkers selfs bestuur en bedryf word. Aangesien plekke beperk is, is bespreking is noodsaaklik. Kontak Chareldine van der Merwe by chareldinev@vva.atkv.org.za of 021 880 1761/43.

Vir meer inligting, sien www.taalmonument.co.za en volg ons op Facebook, Twitter en Instagram.