Om Madiba te eer, help Taalmonument jonges leer

by | Jul 19, 2019 | Afrikaans tuisblad, Argief

Mandela-dag Groenberg Primêr Taalmonument 2019

Dit was gister, Nelson Mandela-dag, die ene glimlagte toe leerders van Groenberg Primêr verras is deur ʼn besoek van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) aan hulle. Nie net het die Taalmonument hierdie skool buite Wellington vir ʼn jaar ter ere van Madiba ‘aangeneem’ nie, maar ook die kinders bederf met ʼn interaktiewe poppekasvertoning en talle pret- en praktiese geskenke. Om dit boonop ʼn absolute onthou-dag te maak, het Radio KC die geleentheid regstreeks vanaf die skool uitgesaai. Die Taalmonument het rugsakke, toiletware, lekkergoed, leesboeke (geskenk deur Biblionef) en ook ’n ete aan al die leerders verskaf.

Volgens die ATM se direkteur, Michael Jonas, is die projek deel van die instelling se missie om die onmiddellike gemeenskap te dien en maatskaplike samehorigheid te bevorder. “Verder sal ons ʼn jaarlange leesprojek van stapel stuur om ʼn liefde vir spesifiek Afrikaanse boeke onder die leerders te kweek,” sê Jonas.

Einde vanjaar sal die leerders gratis besoek by die monument en museum aflê waar hulle meer sal leer oor hierdie ikoniese instellings. Hulle sal dan ook ʼn Kersfeespartytjie ter ere van hulle bywoon en onder meer skoolbehoeftes vir 2020 ontvang.

Vir meer inligting en foto’s, sien www.taalmonument.co.za