Van Afrikaans gepraat, ’n splinternuwe boek deur wyle Christo van Rensburg, word op Saterdag 20 Oktober 2018 amptelik by die Ouditsaal, Moreletaparkgemeente in Pretoria-Oos bekendgestel.
Die geleentheid word aangebied deur die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en Die Erfenisstigting.
Waar het Afrikaans begin? Wie het eerste Afrikaans gepraat? Was die Kaap regtig Hollands? Wat is die invloed van townships op Afrikaans? Hoe het die verskeie trekke Afrikaans beïnvloed? Die taalkontak wat daaruit gevolg het, of selfs ook die vrees vir taalkontak, is een van Afrikaans se belangrike stories.
Die skryf van Afrikaans het op verskillende maniere begin, en haar standaardisering gaan met heelwat vertellings gepaard. Van Afrikaans gepraat is ook in Engels beskikbaar as Finding Afrikaans.
Van Rensburg is oorlede terwyl hy aan die laaste proewe gewerk het. Hans du Plessis het die projek verder bestuur namens die gesin. Saterdag 20 Oktober sal dus ook ’n viering van Christo van Rensburg se bydrae tot Afrikaans wees.
Die verrigtinge begin om 09:00 en sal duur tot 13:00. Bywoning is gratis, maar sitplekke is beperk. Bespreek dus so gou as moontlik by ria@afrikaansetaalraad.co.za om teleurstelling te voorkom.