Die uitdrukkings en byname is ʼn erflating van groot waarde met ondergenoemde vertellers* wie se stemme opklink vanaf die letters op papier. Die volgende stories, uitdrukkings en naamgewing vorm deel van die Noord-Kaap mondelinge oorleweringsprojek waarby die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) betrokke was. Vertellers kom van Campbell, De Aar, Philipstown, Hopetown, Kuruman, Marydale, Griekwastad, Prieska, Garies, Hondeklipbaai, Daniëlskuil en Paulshoek. Sien meer by taalmuseum.co.za/die-kartering-van-gariepafrikaans en deur die soekfunksie op ons webtuiste met ‘Noord-Kaap’ in te vul.
Jakobus Beukes
Nou die spesifieke dag wat ek nou van praat, het daar mense gekom by my ouma’le wat nou kom kuier. En die ou antie en oem wat daar gesit’t, het gesê: “Ek sê Grietjie, ek en die ouman het nog’ie opgestan’ie’.” Nou as djulle praat van hulle het’ie opgestan’ie, dan is’t hulle’t nog’ie eerste koppie koffie innie oggend gehad’ie. Djulle moet vir ôs ’n brou maak. En as ôs in Namakwaland praat van brou, dan is dit tee en koffie.
Ma’ voor sy gesterwe’t, het sy vir my ouma gesê: “Ma moet hier’ie kênd aanneem as ma se eie kênd en hom groetmak.” En soe het sy mos ma’ gemaak. En my ma’t afgesterwe toe ek ’n jaar en ses maande oud was en toe het my ouma mos maar opgegroot. Ma’ ek was baie sieklik gewees en daarby het ek ’n huil gehad wat nooit stop nie. Ek huil verskriklik en een antie het gesê: “Is hy daai kênd wat soe skree?”
En daai djare het ôs mos’ie dummies gehad’ie. My ouma het soe ’n linnelappie wat hulle nou soe twie teelepels suiker ingooi, da’ mak hulle hom mos nou prop vas en da’ word die lappietjie nou. Die suikerlap in jou mond gesit en dan moet jy maar nou suie.
Jacobus du Toit
…hier was ’n ander Piet du Toit, my oupagrootjie. Hulle het hom genoem Piet Almanak omdat hy in staat was om die weervoorspelling veruit te kan voorspel.
Mervyn Swart
Die asbos groei nogal groot. Jy druk hom net tussen die bene, dan draai jy hom uit. Die karretjiemense. Hulle trek vir hulle uit, dan bou hulle vir hulle ʼn skerm – ʼn asbosskerm”. Dis ’n klein bossie, hy het baie doringtjies aan. Sy naam is “voëltjiekanniesitnie”. Dit is so interessant, want ’n voëltjie kan nie op hom sit nie, hy het te veel dorings.
Freek Witbooi
My bynaam is Kappie, want ek het ʼn rooi cap gehad. Toe het ek die cap gedra en gedra, toe is hy verbleik na pienk tot hy vaal geword het. Soos hy vaal geword het, lyk dit nou soos flou tee, wat jy nou melk ingegooi het. Toe is hy stukkend. Toe is ek nou so oor die rooi, toe gaan koop ek weer ’n rooi cap, toe sê die onderwyser hy het nou weer ’n Rooikappie gekoop. Toe noem hulle my Kappie. Dit was baie lekker. So as iemand nou vir my kom soek in Philipstown en hy sê hy soek vir Freek, hulle sal nooit vir my kry nie. As hy sê “ek soek vir Kappie wat by die skool werk”, dan sal sommer ’n sesjarige kind ook vir jou tot by my vat.
Petrus Mouers
Dan het hulle woorde soos as hulle jou wil koggel, dan noem hulle, hulle “gwarra” jou. As hulle jou gwarra, dan moet jy weet hulle noem alle snaakse goed oor jou.
Edwin Brian Visser
Wat ek kan onthou toe ek standerd drie was, was in 1975 daar rond toe het ek ’n opvoeder gehad wat ’n groot indruk op my gemaak het as leerder. Hy was van Kimberley. Die manier van sy dinge doen het ek nogal baie bewonder. Van sy gesegdes was altyd gewees met sy tuiswerk. Hy het vir ons gesê daar issie ’n verskoning om te kom sê nee jy kan nie tuiswerk doen nie of jy het nie kerse gehad of so nie. Hy het vir ons gesê altyd as jy vanmiddag uit die skool uitkom en jy klaar geëet het, jy het ’n son wat verniet skyn, doen jou tuiswerk. So daar was nie daai verskoning en goedjies nie.
Die meerderheid hier het byname. Hulle het maar grootgeword met byname. Die mammas wat nou getroud is met verskillende pappas. Dan sal hulle byvoorbeeld gesê het die een oom se naam is oom Mossie, die een oom se naam is miskien Thys en die een oom se naam is Hendrik. Dan is dit nou drie vrouens met miskien dieselfde name, miskien Anna. Dan sal hulle nou vir jou sê gaan vra gou by Anna-Thys ’n bietjie suiker of by antie Anna-Hendrik of by aunt Anna-Mossie. Dit is hoe hulle die mense ook altyd aangespreek het. Die man se naam met die vrou om nou daai verwarring uit te skakel.
Dan wat mense ook graag doen is plaasname te koppel aan iemand. Dis baie maklik. Soos byvoorbeeld Kallie Mouton en sy vrou Sunieta. Hulle plaas is Kalkrandjies. Nou praat jy sommer van Kallie Kalkrandjies.
Willem Olivier
Toe ek ’n jongman gewees het, so 18, 17 jaar, op Marydale, toe was ek van die soort mans gewees as my ouer my stuur of mense my stuur dan sal ek nie heeldag wegbly nie. Ek sal sommer nou hardloop en dan kom ek trug. Baie vinnig. En dit het so gebeur by my werkstye ook. In die vroeë dae was ek ’n vormdraer wat stene maak. Nou dan moet ek hulle weg maak. Stene maak is die vorm. Nou ek is die draer. Nou vandag hardloop ek heeldag. En vanaand is ek nie moeg nie. Nou dis hoekom ek die naam gekry het en ek het gehardloop. Nou as ’n mens van môre af net jou etenstyd en weer inval en up and down en up and down. Nou stene maak is nie ’n ding vir enige man nie. Hierdie voormalige kleistene. Om vir hulle te maak op ’n dag 3 000 tot 3 500 jy alleen vir hulle wegdra. Hiervandaan mix, handlangers mix aanmaak en jy moet daai mix wegdra. Toe kry ek die naam Oom Voël.
Marthinus Johan Theunis
My kleinbroetjie se regte naam was Willem, maar hulle het vir hom ook genoem Windjie Waai. Daar was ’n rede hieraan verbonde. Die dag toe hy gebore was of word, het die wind verskriklik gewaai.
Siena van Nel
My regte kleinnaampie is eintlik Alletjie omdat my ma gesê het ek is die enigste ene. Ons is baie geheg aan kleinnaampies. En sommige keer van die kleinnaampies kom sit vas en dan ken mense jou nie as jy daai naam noem nie. As jy daai naam noem, dan weet hulle van wie jy praat nou.
Ds Dokkie Lintveld
Sommer nog gister, nog Saterdag by die basaar, toe sê een tannie sy’s nie baie fotogenies nie. Sy lyk altyd op ’n foto soos ’n kind wat pak gekry het. Nou jy weet, dis beskrywing. Met anner woorde, jy lyk nie altyd so vriendlik of vrolik op die foto, jy lyk so bietjie hartseer. Ma sy sê sy lyk soes ’n kind wat pak gekry het.
Dis ’n vlerkbaadjie. Hy praat van ’n kroegdeur, daai deure wat so swaai, sê hy dié, die onnerbaadjie. Hy’t ’n kroeg, hy lyk mos soes ’n onnerbaadjie. Hy sê toe die ou daar by die onnerbaadjie ingaan.
Ek kyk nou net hieso ek, ek het een dag met ’n tannie gesels, sy het op ’n eiland groot geword…Kanoneiland. Nou die eiland is mos nou in die middel van die Oranjerivier, en toe trou sy hier met iemand en sy drink nie brakwater nie. Nou uit die aard van die saak, sy’t op ’n eiland groot geword, daar was gedurig vars water rondom haar en hier in Namakwaland het ons nie water nie. Dis ons groot probleem. Toe sê sy, sy drink nie brakwater nie, sy drink varswater en haar tee moet met vars water gemaak word. Toe gee haar skoonma haar die bynaam Ou Eilandperd.
Gert Nieuwoudt
…verliede jaar wat die blommekykers vir ons toestroom staan en verf daar manne nou bo op die steppie. Nou, jy sê van waarneming. Dis nou oek hulle manier van waarneming. Nou kom die man na sy motor toe dan druk hy nou die afslaan dingetjie, die veiligheidsding. Die sentrale sluitsel. Nou, nou hoot die motor, hy maak so piep, piep. Nou sê hulle vir my meneer watse mouters is dit dan wat blaf vir hul eie base? Nou dis wat pragtig is, waarneming. Die mouter blaf dan nou vir sy eie baas en ’n hond blaf mos net vir ’n vreemdeling.
Grietjie Adams
Jou ewige klein kamertjie – jou doodskis.
Johanna Adams
Ek het mos nou by die goggas geloop werk en ek het dit mos so daarso geleer hoe ’n mens die goggas maak. (Sy verwys na haar werk in die kreeffabriek.)
Annie Abrahams
My bynaam is Karretjie. My pa het daardie dag wat ek gebore is, toe koop hy en my ma spesiaal twee donkies en ’n donkiekar. My kinders wil nie geglo het nie. Dan sê ek: “Nee man dis die naam wat my ouers vir my gegee het.”
Martha Meintjies
Een van my pa se broers wat al oorlede is. Ons het hom al die jare geken as Oom Duimpie. Sy bynaam was van skool af Duimpie en dit was doodeenvoudig omdat hy baie kort was toe hy op skool was. So hy het Duimpie geword toe hy op skool was.
Pieter Dirkse
Voortydse stof. Ons is nie hierie wêreld se graatjies nie. Ons is anner wêreld se graatjies.
- Die informante het vrywillig deelgeneem aan die projek en toestemmingsvorms onderteken vir die gebruik van inligting vir navorsing. Die ATM verdien geen inkomste uit hierdie stories nie. Die inligting is ingesamel vir ʼn mondelinge oorleweringsprojek wat kennis en inligting beskikbaar stel aan die nageslag, navorsers en publiek asook om die histories gemarginaliseerde variëteite soos Gariepafrikaans bevorder. Sien meer by taalmuseum.co.za/die-kartering-van-gariepafrikaans en deur ‘Noord-Kaap’ in die soekfunksie op ons webtuiste te tik.