Op die afgelope Suid-Afrikaanse Museumvereniging (SAMA) se nasionale konferensie is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) vereer met die 2022-Toekenning vir Publikasie-ontwerp (Kategorie B). Die ATM het die prys ontvang vir hul promosiemateriaal rakende Sterrekykpiekniekreeks 2021-2022, wat deur die instelling se kommunikasiebeampte, Sybrandus Adema, ontwerp en geskryf is. Hy en die ATM het ook eervolle vermeldings vir die volgende kategorieë ontvang: Kategorie A publikasies vir ‘Plante vir Parkeerterrein’, Kategorie B vir die ‘Volmaanpieknieks 2021-2022’ asook Kategorie C vir die instelling se webtuiste. Die ATM het in 2017 ook ʼn SAMA-toekenning vir publikasie-ontwerp (ʼn inligtingsboekie) en in 2019 vir die beste ontwerp van plakkate verower.
SAMA (sedert 1936) verteenwoordig tans oor die honderd museums landwyd en het ʼn paar honderd lede – leer meer oor hulle by samuseums.co.za en volg hulle op Facebook. taalmonument.co.za