Name in die Noord-Kaap: van Kambro tot Prieska en Soebatsfontein

by | Des 12, 2022 | Afrikaans tuisblad, Algemene inligting, Argief

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ondersteun die opname van histories gemarginaliseerde variëteite van Afrikaans, waarvan Gariepafrikaans ʼn voorbeeld is. Die volgende stories, uitdrukkings en naamgewing wat van vertellers* verkry is, vorm deel van die Noord-Kaap mondelinge oorleweringsprojek waarby die ATM betrokke was. Sien meer by taalmuseum.co.za/die-kartering-van-gariepafrikaans en deur die soekfunksie op ons webtuiste met ‘Noord-Kaap’ in te vul.

Wat beteken Kambro? Die plaas met dié naam is naby Petrusville. Volgens ʼn verteller is Kambro “ʼn droogteplant met ’n knol wat onder die grond groei met klein fyn blaartjies bokant die grond. Dit is ’n droogtekos en as die kos skaars is, grawe die vee dit uit. Dit is so ’n patat onder die grond. Jy kan byvoorbeeld van hom konfyt ook kook. So ’n sappige, vogtige ding is hy. Jy kry dit nie orals nie. Jy kry dit op grond wat nie uitgetrap is nie. Maar dit is nie ’n ding wat oor die algemeen voorkom nie.”

Die geskiedenis van Petrusville is nou verweef met die trek van veeboere en die Van der Walt-familie. ʼn Inwoner van Petrusville het die volgende vertel oor die naam van die dorp. “Ek is die sewende geslag van oupa Pietjie van der Walt wat die stigter is van Petrusville. Hy het van Middelburg hiernatoe gekom en weiregte gekoop. Ná sy dood, het een seun Fonteintjie geërf en die ander seun Renosterfontein. Die een was Christiaan gewees en die ander een was Lodewyk gewees. En die twee broers het elkeen die helfte van hulle se grond beskikbaar gestel vir die stigting van ’n dorp. Toe het hulle dit maar nou vernoem na hulle se pa, Oupa Pietjie, hy’s eintlik Petrus Jacobus. Dit is maar die ontstaan van dinge. Hulle het eindelik die erwe uitgesit, en toe moes die mense die erwe koop.”

De Aar is geleë op die N10-roete tussen Hanover en Britstown. Jagters en ontdekkingsreisigers het in die gebied inbeweeg in die voetspore van die Khoekhoen, en vanaf 1837 is die eerste ses plase uitgemeet. Die plaas De Aar is aan Jan Gabriel Vermeulen (Swart Jan) toegeken. Daar was ʼn sterk wateraar wat water aan duisende skape voorsien het. Later is die plaas in twee verdeel en het die waterbron ʼn “samesuiping” geword. Die plaasnaam het later die dorpsnaam geword. De Aar word volgens ʼn verteller “ook die windpompdorp genoem, want al ons water kom van ondergronds. Ons het geen dam nie. Die naaste dam is die Vanderkloof dam wat oor die 100km hiervandaan is. So het elke tweede, derde erf hier ’n windpomp. De Aar beteken mos die are, die ondergrondse water wat hier onder ons is.”

Die Karoodorp Hanover se naam is interessant. ʼn Inwoner van die dorp sê die oorsprong van die dorp se naam “is ’n vraag wat almal vra. Die oorspronklike plaaseienaar was ’n Gert Johannes Wilhelm Gouws, en die storie loop dat sy oupagrootjie van Hanover in Duitsland gekom het en sy plaas Hanover genoem het. Die dorp sou hier ontwikkel en dis waar die naam vandaan kom. Die Gouws-familie het twee jaar gelede familienavorsing gedoen. Daar is geen verbintenis tussen die Gouwse en Hanover nie. Dit is een van daai interessante stories. Wat ek wel agtergekom het, is dat een van die voorsate van die sesman-kommissie wat die dorp begin het, van Hanover gekom. Ek gaan dit nie vir ’n feit uitgee nie. Ek vermoed hy het gevra dat die dorp Hanover genoem word.” Dalk kan iemand help met nog verklarings vir die naam!

Putsonderwater – Dit is eintlik Puts-onder-water volgens ʼn verteller. “Die rede hoekom dit “Puts-onder-water” is, is hulle het ’n boorgat geboor naby die stasie…ek is nie heeltemal seker hoe vêr hulle dit gegrawe het nie, maar toe hulle teruggaan die oggend is die put só onder water. Daar was te veel water en dit is waar die stasie die naam gekry het van “Puts-onder-water.”

Mnr Loubser vertel “sy oupagrootjie het vroeër jare die grond gekoop. Hoekom dit Put-sonder-water was….daardie tyd was water baie skaars. Hulle het toe ʼn put hier gegrawe en hulle het toe water gekry, maar daar was nie baie water in die put nie. So het hulle maar nou met hulle vee gebly om die put. Die trekboere het nou altyd hier verby gekom. Dan as hulle hier kom, dan het hulle vir die trekboere gesê die put is sonder water. Want hulle het geweet as die mense uitvind hier is water, dan het hulle nou hier gestaan en dan het hulle nou weiding opgeëet. So het die jare nou maar verbygegaan. My oupagrootjie van Skotland het vreeslik gesukkel met tering. Toe het die dokter vir hom daar gesê hy moet na ’n plek toe gaan wat nou baie droog is. So het hy nou van Skotland af hiernatoe gekom en hy het toe nou sy neef hier ontmoet en hy het toe nou vir sy neef beginne werk. Later jare het hy nou die grond by die neef gekoop, want die Steenkamp-man wat hy die grond aan verkoop het, kon nie die verband terugbetaal nie. En toe het my oupagrootjie nou die geleentheid gehad om die grond by die Steenkamp te koop. Dit is toe nou waar ons aan Putsonderwater gekom het.”

(Volgens die boek ‘Noord-Kaapse dorpe’ deur dr Jan van der Merwe het Dawid Ockhuis kort ná 1880 daar ʼn put gegrawe, sy seuns Hans en Gert het hom gehelp. Die put was belangrik in ʼn streek waar trekboere water vir hul vee moes kry. Ockhuis het besef dat as hy met sy water spog, kan hy sy plaas verloor. Gevolglik het hy gesê hy het ʼn put, maar sonder water. Die plaas is in 1886 verpag aan die Skotse winkelier van Draghoender, ene Peter Connan.)

Die naam Olifantshoek is volgens ʼn verteller afgelei van die berg wat lyk soos ’n olifant wat lê. “Maar ek kan nie met sekerheid sê nie. Maar toe hulle in die vroeër tyd die dam hier gemaak het, het hulle olifantbene hier uitgesleep. Dit is nou maar stories, ek kan nie sê ek het dit gesien nie.”

(Volgens die boek ‘Noord-Kaapse dorpe’ deur dr Jan van der Merwe is daar ook stories van ʼn sogenaamde Britse offisier, ene luitenant Oliphant, wat naby Rietkuil gesneuwel het in 1872, maar waarvan daar geen rekords bestaan nie. Die waarskynlikste verklaring is dat die naam afgelei uit die oorspronklike Tswana woord ditlo wat olifante beteken. Soms is daar ook verwys na Ditloung wat “plek van die olifante” beteken.)

Prieska het ʼn interessante naam. Volgens ʼn verteller is Prieskab ’n woord wat “verlore bok” beteken.

(Volgens die boek ‘Noord-Kaapse dorpe’ deur dr Jan van der Merwe is die naam afkomstig van die vervorming van die Korananaam Prieskab wat beteken “plek van die verlore bokooi”.)

Die naam Garies is ontleen aan die Khoekhoen-woord /xharis wat verwys na die kruipgras wat in die omgewing groei. Aanvanklik het John C. Merriman, die Eerste Minister van die destydse Kaapprovinsie, die dorpie Kweekrivier genoem, wat verband hou met die Khoekhoen-naam. Dit was ook Genisdal genoem ter ere van Evert Genis, ʼn onderwyser en voorleser in die kerk. Dit was ook op ʼn tyd Keerweder genoem – moontlik as verwysing na die skynbaar onoorkomelike berge noord van Garies, aldus die boek ‘Noord-Kaapse dorpe’ deur dr Jan van der Merwe.

ʼn Inwoner van Garies vertel onderhoudend grepe uit die geskiedenis van die dorp. ‘Ôs is nou by Letterklip. Dis een van ons dorp se erfenisse. Nou Letterklip het sy naam ontleen aan die name wat geskryf is op die klip. U sal sien op een van die klippe staan die naam Genis. Nou Genisdal was die eerste naam wat aan die dorp gegie was. Die eerste eienaar wat die plaas Genisdal gekoep het, was ’n Genis. Hy is ’n paar jaar, jare geliede, siek en is al oerlede en sy graf, sy graf sit iewers hie’ rond onnerkant die dorp.”

Delportshoop het in die 1870’s ontstaan danksy diamantdelwerye in die riviergruis. Die openbare delwerye is in 1871 geproklameer. ʼn Inwoner van Delportshoop vertel dat baie van die mense wat vandag hier woon, in Alco werk. “Dis ’n sementdorpie, net so 18km op pad Koopmansfontein toe. Ek is gebore in Alco en op tweejarige leeftyd het ons Delportshoop toe verhuis. My pa het al die jare op die myn gewerk. My oupa het die myn ontdek. Delportshoop het ook die bynaam Paddaspan. Die brakslote hier agter is sulke kleigronde van die saamloop van die twee riviere, die Vaal- en die Hartsrivier. As dit gereën het, dan hoor jy in die aande die paddas in die vlei.”

(Volgens die boek ‘Noord-Kaapse dorpe’ deur dr Jan van der Merwe is die Tswana-naam vir Delportshoop Tsineng en Dikgathlong, wat “plek van samekoms” beteken – dit is ʼn verwysing na die samevloeiing van die Vaal-en Hartsrivier. Delportshoop se naam is afkomstig van ʼn delwer, mnr HJ Delport, wat ʼn diamant hier ontdek het. Die delwers het die plek Sloane’s Rush genoem.)

Rooifontein is ʼn klein plaasgemeenskap. Die naam is ʼn direkte vertaling uit die Nama-woord Naurap. Dit is ʼn verwysing na die rooi grond wat daar voorkom. (Dit kan ook moontlik verwys na klippe in die berge). Inwoners vertel die volgende: “Die mense wat hier kom vra vir ons van hoe’t hy ontstaan. Ja, hoe’t hy die naam gekry, Rooifontein? Ja, ôsse groetmense het ôs gevertel van ʼn fonteintjie wat hie’ was. Hy’s natuurlik so toegesmoer lat ôs hom nie moet kry nie. Jy kan’ie sê waar hy eintlik is’ie. Ma’ hulle sê hy’s, hy’t rooi klei gehad. Ja, toe’t die water oek nou rooi geskyn. As jy nou kom by die water da’ lyk’it die water is rooi, en daardeur  is die naam gekry, Rooifontein. Ja, ma’ ôs sal dit ma’ vat op’ie water. Wan die voertydse mense het mos as hulle ’n plek soek, mos eerder water gesoek. En as hulle mos water gekry’it, dan het hulle mos nou da’ geoornag of gebly.”

Vir Soebatsfontein bestaan verskeie weergawes van die naamgewing. Volgens die boek ‘Noord-Kaapse dorpe’ deur dr Jan van der Merwe het ene JC van der Westhuizen in 1798 ʼn brief geskryf aan die landdros in Stellenbosch. Dit blyk dat die jare 1790 tot 1815 moeilike jare was vir die Namakwalandse inwoners. Jan van der Heever het in 1798 gekla by die veldwagmeester, Andries Kraay, dat hy moes trek weens aanvalle deur die San. So het daar talle aanvalle plaasgevind en dit het uitgeloop op ʼn strafekspedisie in 1799 waar ʼn paar San doodgeskiet is. Naas die San, was daar ook Khoekhoen wat verset aangeteken het nadat gerugte versprei is dat hulle “ingeboek” gaan word. Witbooi en Barend Goeieman het in opstand gekom. Die Khoekhoen was kwaad oor die trekboere wat hul vee laat drink het by hul fonteine. Barend Goeieman en ʼn aantal San het ʼn kneg, Hendrik Stievert, oorval en doodgeskiet. Laasgenoemde het gesmeek om sy lewe, maar tevergeefs. Dit is die een verklaring vir die oorsprong van die naam Soebatsfontein.

 ʼn Ander weergawe, volgens ʼn verteller, meld dat Soebatsfontein se naam gekoppel is aan ’n storie wat in 1800 afgespeel het. Net die San en die Khoekhoen het in daardie tyd in die streek gewoon. Dit was toe dat die eerste Europese setlaars van die Kaap af Noordwaarts getrek het. Mnr Siebritz en sy metgesel het hulself by die fontein kom vestig. Jarelank het inheemse mense van die gebied die fontein en sy water as heilig beskou. Die San was meestal trekjagters en was beslis daarvan bewus dat hierdie fontein ’n raar waterbron in hierdie gebied is. Eendag het ’n groep trekjagters verby gereis. Die ontheiliging van die waterbron het hulle so woedend gemaak dat hulle Siebritz en sy metgesel gevang en geboei het. Hulle is na ’n plek gebring wat vandag bekend staan as die historiese klip van Soebatsfontein. Die “vangs van die duiwel” het tot groot vieringe gelei, en alle pogings om te onderhandel, al hulle gesmeek en gesoebat, het niks gebaat nie. Daar was vir hulle geen genade nie; uiteindelik moes Siebritz met sy lewe boet. Gedurende die seremonie het die Khoiman (metgesel van Siebritz) ontsnap. Hy het weggekom sonder dat hulle hom gesien of gehoor het, maar hy kon nie rus voordat hy wraak geneem het op Siebritz se moordenaars nie. Hy het die storie versprei op die plase in die omgewing. Met ’n kommando helpers is hy terug na die fontein. Die plek was heeltemal ontruim. Jare later, toe die eerste boere hulself hier kom vestig het, het hulle van die storie te hore gekom. Ter nagedagtenis aan Siebritz en sy metgesel, het hulle die plek aldus vernoem. Die Afrikaanse woord vir “soebat” beteken “om vir iets te smeek” en so is die gebied Soubattersvlakte genoem. Omdat die storie om die fontein afgespeel het, is die dorpie Soebatsfontein genoem.

Lepelfontein is ʼn ou sendingstasie. Volgens die boek ‘Noord-Kaapse dorpe’ deur dr Jan van der Merwe is die plaas Lepelfontein aan ʼn ene Apnar toegeken. In die 1820’s het die Metodistekerk ʼn sendingstasie op die grond opgerig. Die verklaring vir die naam word gegee as die gebruik van ʼn vrou om water met ʼn lepel te skep uit ʼn fontein. Sy sou later die stammoeder word van die Apnarfamilie.

  • Die informante het vrywillig deelgeneem aan die projek en toestemmingsvorms onderteken vir die gebruik van inligting vir navorsing. Die ATM verdien geen inkomste uit hierdie stories nie. Die inligting is ingesamel vir ʼn mondelinge oorleweringsprojek wat kennis en inligting beskikbaar stel aan die nageslag, navorsers en publiek asook om die histories gemarginaliseerde variëteite soos Gariepafrikaans bevorder. Sien meer by taalmuseum.co.za/die-kartering-van-gariepafrikaans en deur ‘Noord-Kaap’ in die soekfunksie op ons webtuiste te tik.

Bykomende bron:

Noord-Kaapse dorpe, dr J van der Merwe, 2012 Uitgewer Danhog Publishers, Oranje Drukkers Senekal