ʼn Vuurwarm rede om nie ʼn voet buite die deur te sit nie

by | Jul 18, 2019 | Afrikaans tuisblad, Algemene inligting, Argief

Winter

Nou lê die aarde nagtelang en week
in die donker stil genade van die reën,
en skemer huise en takke daeliks bleek
deur die wit mistigheid en suising heen.
Dis alles ryk en rustig van die swaar
geheime wasdom wat sy paaie vind
deur warm aarde na elke skeut en blaar,
en ver en naby alles duister bind
in vog en vrugbaarheid en groot verlange;
tot ons ’n helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?

  • NP van Wyk Louw

Draagbare voetstofies en bedverwarmers is reeds sedert antieke tye in Europa gebruik. Houtskool en olie is gebruik as brandstof. Soms is verhitte bakstene of klippe ook vir die doel gebruik. In ander gevalle is kookwater in gepaste houers van keramiek of metaal gegiet en het dit as verwarmers gedien. In Italië was daar in die 15de eeu voetstofies van klei of brons, in die vorm van ʼn vaas, met ʼn deksel – dit is ʼn scaldino genoem.

Die gebruik van voetstofies was goed gevestig in die Laaglande teen die 17de eeu en het die meeste huise een of meer in gebruik gehad. Skilderye uit die 17de en 18de eeu beeld huislike tonele uit waarin voetstofies aanwesig is. Die gebruik het ook versprei na lande buite Europa.

Die ou Kapenaars het vindingryke idees gehad om warm te bly. Houtvoetstofies met ʼn kolebakkie vol kole het die koue afgeweer. Besoekers aan die Kaap het daarna verwys in hul aantekeninge en sketse, en die bekende Lady Anne Barnard het haar voetstofie saam kerk toe geneem. Sy was nie die enigste persoon wat dit gedoen het nie. Daar is soms tot vier ure lank kerkdiens gehou in die koue kerke en die voetstofies was sekerlik nuttig vir die kerkgangers.

Kaapse voetstofies is meestal van ligte inheemse houtsoorte soos geelhout, sederhout en wit els gemaak. Soms is ingevoerde dennehout ook gebruik. Voetstofies is met groot sorg gemaak en versier. Die vroegste voorbeelde het gaatjies bo-op gehad wat in mooi patrone uitgesny was. Drieblaar-, hartjie- en sterpatrone was van die gewildste motiewe. In die meeste gevalle was die openinge eenvoudig en rond.

Elke voetstofie is met sy eie tessie (kolebakkie) vervaardig. Tessies is van dik yster gemaak sodat dit die hitte van gloeiende kole kon weerstaan. Soms is dit ook van geel- of rooikoper gemaak. Die tessies het handvatsels van duursame donkerhout gehad. Ou Kaapse boedelinventarisse maak ook melding van voetstofies as deel van die inhoud van wonings.

Winternag

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.

O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ʼn meisie
in haar liefde verlaat.
In elk’ grashalm se vou
blink ʼn druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou!

  • Eugene Marais

Bronne:

Jo-Marie Rabe, oudhede ghoeroe
Foot warmers: Comfort from the extreme elements in Colonial times
Foot warmers: hot coals, hot water
Meubilering en versiering van die pioniershuis
Johan Friederich Haszner: Duitse sjirurgyn aan die Kaap 1764-1820 JC Pretorius