Museumdag vir kenners en leerders

by | Mei 31, 2021 | Afrikaans tuisblad, Argief

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het Internasionale Museumdag op 29 Mei 2021 met ʼn suksesvolle paneelbespreking oor vanjaar se tema, “Die Toekoms van Museums: Herstel en Herverbeel”, onder die publiek se aandag gebring.

Die paneel het uit Beverley Thomas van die internasionale museumraad (ICOM), Bertdene Laubscher, bestuurder van die Togryers Museum op Ceres, Annelize Stroebel, uitvoerende hoof van Drakenstein Plaaslike Toerismevereniging, asook die ervare museum- en erfeniskonsultant Helen Joannides bestaan. Gegewe die impak wat die Covid-19-pandemie wêreldwyd ook op museums gehad het, het die klem geval op hoe die instellings se aanbiedings herbedink en hul kubervoetspore uitgebrei kan word om meer inligting via die internet te versprei en sodoende meer e-besoekers te lok. Oor die 30 mense het die geleentheid by die monument bygewoon en bydraes gelewer.

Om die dag beter te vier is 157 graad 7-leerders van Hillcrest en Nederburg Primêr ook na die Taalmuseum gebring waar hulle meer oor hierdie historiese gebou en Afrikaans geleer het.