Leerders verken Paarl se ryke erfenis

by | Apr 18, 2019 | Afrikaans tuisblad, Argief

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en Paarl Museum het op 16 en 17 April ’n spesiale program aangebied ter viering van die Internasionale Dag van Monumente en Terreine, wat jaarliks op 18 April gevier word. Die doel van die dag – vanjaar se tema is ‘Landelike Landskappe’ – is om die publiek bewus te maak van hul diverse kulturele erfenis met die oog op die bewaring en beskerming van hierdie erfenis. As deel van die plaaslike Paulus Joubert Sekondêre Skool se graad 10-leerders se jaarlikse erfenistaak, het 140 van hulle die ATM en Paarl Museum besoek. Die Paarl spog met uiteenlopende historiese terreine asook monumente en dit is belangrik dat die plaaslike gemeenskap hiervan bewus moet wees. Hierdie dag is deur ICOMOS (Internasionale Raad van Monumente en Terreine) op 18 April 1982 ingestel en is in 1983 deur UNESCO (Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie van die Verenigde Nasies) aanvaar. Meer oor ICOMOS te siene by www.icomos.org/en/