ʼn Liedboek van 218 jaar gelede in die Taalmuseum
Daar is altyd iets spesiaals te vind in ʼn museumversameling. So is daar in die Taalmuseum se argief ʼn baie ou liedboek uit die Cradockdistrik in die Oos-Kaap. Hierdie pragtige “liede boekje” het behoort aan Sara Elizabeth Voslo, “huisvrouw van Pieter Gous”, en is 7 Februarie 1802 gedateer.
In Celestine Pretorius se boek ‘Al laggende en pratende: Kaapse vroue van die 17de en 18de eeu’ verwys sy na die ou Kaapse liedboeke as “kosbaarder as goud”. Die liedboeke is met die hand geskryf en versier, en slegs ʼn paar van hierdie boekies het behoue gebly. Volgens Pretorius hang die ontstaan van die liedboekies saam met die Piëtisme-beweging aan die Kaap teen die einde van die 1700’s, wat ook onder meer die kerksang beïnvloed het. Daar was amptelike sangbundels van Sluiter en Jacob asook Johannes Groenewegen in gebruik, maar gedrukte bundels was skaars. Daar is toe liedere met die hand oorgeskryf, soms aangepas en ook mooi versier.
Skynbaar was die gebruik dat ʼn leermeester (onderwyser) die boekies versier en gebind het. So was daar ʼn bekende onderwyser, Hendrik Penninghof in die Cradockdistrik, wat betrokke was by die saamstel en versier van die liedboeke vir Hester Maria van Zyl, Anna Remmerta Bester asook vir Sara.
Volgens Pretorius se artikel ‘Ou Kaapse liedeboeke: ʼn kultuurhistoriese studie’, is die liedboekies met volkskunsmotiewe soos harte, tulpe, rose, lynversierings, sterre, bome en voëltjies versier. Dikwels was die leermeesters van Nederlandse en Duitse herkoms, en daarom het tipiese Westerse volkskunsmotiewe hul verskyning in die liedboeke gemaak.
[ngg src=”galleries” ids=”2″ display=”basic_slideshow”]
In die liedboeke wat deur Penninghof versier is, is rose ʼn belangrike motief. Die eenvoudige voorstelling van die roos met vyf kroonblare het oorspronklik uit ʼn stilering van die wilderoos ontstaan. Dié roos word gewoonlik met skoonheid, vreugde en geluk in verband gebring. Penninghof gebruik ook die tulp, wat as ʼn simbool van volmaakte liefde beskou is, as motief. Nes die tulp, is die angelier ook uit die Nabye Ooste afkomstig en was dit ʼn gewilde versieringsmotief.
Die ou motief van die lewensboom word gebruik as verwysing na die kringloop van die lewe. Die hart het reeds in die 12de eeu as simbool van liefde in Europa voorgekom en het deur die eeue heen ʼn gewilde volkskunsmotief gebly. Op verskeie van die versierings in die liedboeke van Penninghof kom die bekende liefdesmotief van die twee voëltjies voor. Die ster word weer beskou as simbool van verhewenheid, oppermag, onsterflikheid en prestasie.
Die vier hoof kleure – blou, groen, geel en rooi – wat in die liedboeke gebruik is, was van minerale oorsprong. Die blou verf of ultramaryn, was van die lasuursteen (lapis lazuli) gemaak. Rooi is verkry van verpoeierde sinnaber (kwiksulfaat). Verpoeierde sinnaber is vermiljoen genoem. Chroomgeel is ʼn pigment wat uit loodchromiet verkry is, terwyl die groen pigment in kopergroen (koolsuur-koper) gevind is. Ander skakerings kon uit mengsels van hierdie kleure verkry word. As bindmiddel het Penninghof Arabiese gom (afkomstig van akasiabome) gebruik.
www.taalmuseum.co.za