Taalmonument bied duisende Rande aan vir kort skrywes
Hoewel die huidige inperking en algemene situasie weens die koronavirus-pandemie ernstig is, wil die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ook die humor belig wat mense se daaglikse bestaan draagliker maak. Met nuutskeppings soos ‘koeshoes’, ‘grendelgriep’ en ‘kwarantynwyn’ asook die snaakse Afrikaanse meme en grappies wat soos ʼn virus op sosiale media versprei, is dit duidelik dat daar geen tekort aan kreatiwiteit in hierdie tyd is nie. Daarom word almal uitgenooi om, as deel van die ATM se 45-jarige vieringe, hul penne te ontperk en iets snaaks, absurds of ironies op te tower. Dit kan limerieke, gedigte, gedagtes, haikoes, slagspreuke, flitsfiksie of lirieke oor dié geskiedkundige tye wees – iets wat by jou huis of enige ander plek tydens die inperking afspeel.
Volgens Michael Jonas, die ATM se direkteur, is die instelling ʼn lewende monument waar daar gedurig ʼn interaksie tussen die struktuur, natuur, besoekers en taalskeppers is. “Ons gee graag aan opkomende skrywers, musikante en digters die kans om hul werk aan ʼn groter gehoor bloot te stel. Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane,” sê hy. “Hoewel ons tans tydelik weens Covid-19 gesluit is, beskou ons dit as ʼn gulde geleentheid om ons web- en sosiale mediavoetspoor onder meer mense bekend en bemind te maak. Deur hierdie kompetisie wil ons Suid-Afrikaners daaraan herinner dat ons in ongekende tye leef waaroor ons en ons nageslagte nog lank sal praat. Dis belangrik dat ons daaroor skryf en ook belangrik dat ons die humor raaksien sodat ons darem in ons maskers kan lag.”
Deelnemers moet ʼn maksimum van 250 woorde in enige variëteit van Afrikaans skryf en hul inskrywings met volledige naam, e-posadres en telefoonnommer teen 16 Junie 2020 na bemarking2@taalmuseum.co.za e-pos. Die wenner sal R2 000 wen en die twee naaswenners R1 000 elk. Al drie ontvang ook ʼn jaarpermit (gesin van 4) vir die monument en museum, wat geldig sal wees vanaf die dag wat die ATM weer vir die publiek oopgestel word. Die top-12 inskrywings sal vir ʼn paar maande in die Groen Galery uitgestal word – eers virtueel, indien nodig, en daarna in lewende lywe.
Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van verskeie opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus. Sien www.taalmuseum.co.za/groen-galery/ vir die huidige ‘Bybel in Kaaps’- en vorige uitstallings.
Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is ook heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
Vir navrae oor die monument of om meer te wete te kom oor die talle gewilde geleenthede en afslagpryse, ook rakende die ATM se 45-jarige feesvieringe, besoek www.taalmonument.co.za of hul Facebookblad. Stuur ʼn e-pos na admin@taalmuseum.co.za.