Khoekhoen-Afrikaans tussen boom en rots

by | Jul 26, 2022 | Afrikaans tuisblad|Argief, Algemene inligting

Groen Galery by Taalmonument belig die taal se oer-skeppers

!Gâi ǂangus. ǁKhoreǁhare @ Khoekhoen-Afrikaans

In ooreenstemming met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se missie om die onderbeligte geskiedenisse van Afrikaans na te vors en te belig, bied die instelling ʼn uitstalling oor Khoekhoen-Afrikaans in hul Groen Galery aan.

Die tydperk direk voor die vestiging van die Nederlandse verversingstasie aan die Kaap, tussen 1595 en 1652, word beskou as die eerste fase van die taalgeskiedenis van Afrikaans. Voorbeelde van vroeë Khoekhoen-Afrikaans kan in verskillende latere variëteite van Afrikaans gesien word soos Griekwa-Afrikaans, en in die oudste optekenings van enkele woorde wat tans in Algemene Afrikaans voorkom.

Die Khoekhoen het vee verskaf aan die besoekende Nederlandse skepe. Die seelui het Khoekhoen-woorde aangeleer en die Khoekhoen het die Nederlands van die seelui probeer napraat – só het ʼn aanleerderstaal ontstaan. Ruilhandel, skermutselings en skeepstrandings in Tafelbaai was ook ʼn geleentheid vir die Khoekhoen om Europese tale aan te leer. Die besoeke van die vroeë Nederlandse seevaarders en gevolglike kontak met die Khoekhoen, het reeds vroeg ʼn vorm van Nederlands (die dialektiese spreektaal van die laat 1500’s en vroeë 1600’s) aan die Khoekhoen bekend gestel en sou later ʼn rol speel in die ontwikkeling van Afrikaans. Gegewens dui daarop dat Khoekhoen se invloed op Afrikaans plaasgevind het in bepaalde gebiede, gedurende verskillende tydperke en tussen groepe wat verskeie variëteite van Afrikaans gepraat het.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die missie van hierdie lewende instelling om onder meer die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier. “Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane.”

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ’n rots ingemessel is, omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van veral opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus. Die Khoekhoen-uitstalling sal tot Oktober fisiek besoek kan word, maar dit asook vorige uitstallings kan aanlyn by taalmuseum.co.za/groen-galery/ gesien word.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die ATM Koffiehuis bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte.