Anna Phillips van Garies vertel van die kappies wat die vrouens dra: “Ek het mos nou groetgeword in kom ek sê die geboorteland van die kappie. Die polkakappie is die kappie van die ouer Namakwalandse vrou. Sy dra dit selfs met ’n doek en die ouer vrou is definitief baie meer gesteld op haar voorkoms en die beskerming van haar gesig as ons hedendaagse vrouens. Wan sou jy ’n kappie dra, dan sal sy definitief baie meer beskerm wees tien die son as wat ek is. Hiermee wil ek sê dat dieselfde ouderdom vrou van my se gesig sal baie meer beskerm wees op die reservaat waar sy eindlik mos nou meer blootgestel is aan ’n buitelewe waar hulle ’n gemengde boerdery mos bedryf. Nou dis die kappie wat Grietjie van Garies dra is. Volgens my die kappie van die middeljarige vrou, dis ’n kappie wat ’n enkelfril het, waar hier’ie ene die dubbelfril het en dan kry jy die knopekappie die, die ek het nou ongelukkig nie ’n voorbeeld van nie, ma dit het ’n enkelfril en dan kry jy die kappie van die jonger vrou.
Nou nie dat ek my so dan nou as ’n jonger vrou wou voerstellie, ma ek is nou baie tuis in die kappie; die knopekappie is die kappie van die jonger vrou en dis deel van ôs tradisionele drag van die Namakwalandse vrou. In Garies is nie soe bekend soes op die anne buitepunte van die Kamiesbergstriek nie, want, ek sal u sê die dorpenaar vrou is nou meer gebonde an ’n hoed, ’n laphoed en sonhoed. Waar ôs reserf mense nou weer meer op die landelike gebied die kappies dra. Die verskillende kappies. Onthou tog ousus Grietjie se kappie is die kappie van die middeljarige vrou. Wan sy sallie daarvan hou as ek vir ha as ’n ou vrou beskou nie.
* Die informante het vrywillig deelgeneem aan die projek en toestemmingsvorms onderteken vir die gebruik van inligting vir navorsing. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) verdien geen inkomste uit hierdie stories nie. Die inligting is ingesamel vir ʼn mondelinge oorleweringsprojek wat kennis en inligting beskikbaar stel aan die nageslag, navorsers en publiek asook om die histories gemarginaliseerde variëteite soos Gariepafrikaans te bevorder. Sien meer by taalmuseum.co.za/die-kartering-van-gariepafrikaans en deur ‘Noord-Kaap’ in die soekfunksie op ons webtuiste te tik.