Jeugdag: Drakenstein-kunstenaars het jonges gemotiveer en vermaak

by | Jun 18, 2021 | Afrikaans tuisblad, Afrikaans tuisblad|Argief

Ter ere van Jeugdag 2021 het die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ʼn opwindende gratis program aangebied, wat ter plaatse opgeneem was en aanlyn beskikbaar is vir ʼn wêreldwye gehoor.

Gegewe die huidige uitdagings, is dit ʼn geleentheid vir die instelling om hul bande met die gemeenskap te versterk asook musiekbeoefening en kulturele loopbane onder die jeug te bevorder. Volgens die ATM se direkteur, Michael Jonas, wil die instelling ook Afrikaans in al haar diversiteit en gedaantes ter bevordering van nasiebou en maatskaplike samehorigheid vier.

Die program self het op 5 Junie by die Taalmonument plaasgevind waar 100 uitgenooide jongmense na die gewilde en plaaslik bekende Nosipho H se motiveringspraatjie en sangitems kom luister het. Dit was opgevolg met Zebulon Kochk, 2020-wenner van ʼn Kokertoekenning vir die bevordering van Afrikaans onder die Suid-Afrikaanse jeug, wat sy gedigte voorgedra het. Daarna het Bianca Goosen, wat onder meer al by talle kunsfeeste opgetree het, asook die jong opkomende Wellingtonse sterre RJay & LKay die gaste met musiek en sang vermaak.

“Plaaslike talente word dikwels tydens groot geleenthede misgekyk of uitgebuit en word ook nie altyd na waarde geskat nie,” sê Jonas. “Om hierdie redes wil ons ʼn platform aan plaaslike kunstenaars bied om te kan groei, vaardighede te slyp en broodnodige blootstelling te bekom. Vermaak het immers die krag om ons te verenig en in krisistye aan mekaar te verbind.”

Volgens Jonas het die opstande van 16 Junie 1976 verreikende gevolge vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap en die Afrikaanse wêreld gehad. “Die tragiese gebeure kan seer sekerlik beskou word as een van die grootste flaters in die geskiedenis van hierdie relatief jong Afrikataal. Dekades later gaan die taal steeds gebuk onder negatiewe persepsies weens die opstand, daarom bied Jeugdag ons die kans om te herbesin oor die instelling se omstrede verlede en die by tye steeds verdeelde taalgemeenskap wat ons bedien.”