Vrouens raap duisende rande op; top-13-werke by Taalmonument uitgestal
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en Historium Trust is verheug om die wenners van hul jongste Arabies-Afrikaanse kompetisie, waarvoor R10 000 en jaarpermitte op die spel was, aan te kondig. Vanuit Komatipoort, Mpumalanga, is Zahraa Ameer die algehele wenner, met haar suster, Zaynab Ameer, en Naeema Fredericks van Kaapstad wat as gesamentlike naaswenners op Saterdag, 15 Oktober, tydens die Neville Alexander-gedenklesing by die Paarl aangewys is. Die tien ander beste werke word vir ʼn paar maande saam met dié drie se inskrywings in die monument se Groen Galery uitgestal.
Ter ere van Erfenismaand en spesifiek die bydrae van Arabies-Afrikaans tot die taal se wording het die ATM kort Afrikaanse tekste in Arabiese of Jawiese (Arabiese alfabet soos aangepas vir Afrikaans) skrif versoek. Dit volg op die hoogs suksesvolle kompetisie in 2020 toe meer as 40 nuwe Arabies-Afrikaanse geskrifte ontvang is asook die onlangse Arabies-Afrikaanse werkswinkel by die museum.
Die positiewe reaksie, mediadekking en talle inskrywings – van religieuse tekste en poësie tot oorspronklike werke in Afrikaans – bewys dat daar steeds ʼn groot belangstelling in Arabies-Afrikaans is. Naas Suid-Afrika, was daar vanjaar ook inskrywings van Duitsland en Katar, met Ludwig Schmidt, Alamien Gaidien, Egbert Vermaak, Suleman Dangor, Jubayda Venos, Albrecht Beer, Johann Potgieter, Dorette Booysen, Tuhfah Emjedi en Jo-Mari Reynolds wie se werke die top-13 gehaal het.
Volgens die wenner stel sy belang in Arabies-Afrikaans “omdat dit ‘n groot rol speel in die geskiedenis van Moslems in Suid-Afrika. Ek is Moslem-Indiër van etnisiteit en my huistaal is nie Afrikaans nie, maar ek het grootgeword in ‘n meestal Afrikaanssprekende dorpie en skoolgegaan in ‘n Afrikaanse skool,” sê Zahraa Ameer. “Baie Suid-Afrikaanse Moslems wat nie in die Kaap grootgeword het of Kaaps-Maleis is nie, is onbewus van hoe ryke rol Afrikaans in die geskiedenis van ons geloof en godsdiens speel.”
Naaswenner Naeema Fredericks sê sy vind hierdie tipe skryfwerk baie uniek. “Ek het baie tyd aan redigering bestee aangesien ek dit vir die lesers maklik wou maak.”
“Afrikaans is vir my ‘n baie fassinerende taal,” verduidelik die ander naaswenner, Zaynad Ameer. “Ek stel nie gewoonlik in geskiedenis belang nie, maar die geskiedenis van die taal is vir my baie besonders en interessant. Die kompetisie was uitdagend en lekker; terselfdertyd het dit my herinner aan sjeg Abu Bakr Effendi wat Arabies-Afrikaans in sy madrassa gebruik het. Die moeilikste ding was om die regte klanke vir sekere letters te kry wat nie ooreenstem nie.”
Afrikaans wat met behulp van die Arabiese alfabet geskryf is, word algemeen aanvaar as die eerste geskrewe vorm van Afrikaans. Talle Arabies-Afrikaanse geskrifte – soos studentenotaboeke, verkiesingsplakkate, publikasies en manuskripte – het behoue gebly; tot dusver is 74 van dié werke wat tussen 1845 en 1957 geskryf is, deur kundiges ontdek en geïdentifiseer. Hieronder tel uitstekende voorbeelde van die vroegste Afrikaanse literatuur. Daar is boonop heelwat Arabies-Afrikaanse geskrifte in privaatbesit wat die ATM graag wil digitaliseer om dit vir die nageslag te bewaar.
Die beoordelaar was dr. Shamiega Chaudhari, ‘n dosent in die fakulteit opvoedkunde aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie waar sy Afrikaans as hoofvak en Kurrikulumstudie doseer. Sy is nie net ʼn kenner op Afrikaans en Arabies – en liefhebber van Jawies – nie, maar fokus ook op dekolonisering, identiteitstudies en oratuur. Volgens haar was die beoordeling nie maklik nie, maar het die top-3 kop-bo-water uitgestaan. “Ek wil ook spesiale melding maak van die onmiddellike opvolgers in die 8/10-kategorie wat uitstekende werk gelewer het,” sê sy. “Aan die res van die kandidate wil ek graag my dank betuig; dit was goed en getuig van harde werk en belangstelling.” Om by hierdie kompetisie aan te sluit, het Chaudhari boonop op 16 Julie 2022 ʼn stimulerende Arabies-Afrikaanse werkswinkel vir beginners aangebied; die moderne tipe ‘madrassa’-klas is nie net goed bygewoon nie, maar daar was talle versoeke vir nog werksessies.
Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die doel van hierdie werkswinkels en kompetisies om ʼn moderne bydrae tot dié skryftradisie te lewer. “Ons missie is immers om onder meer die versweë geskiedenisse van Afrikaans te belig en die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier. Daarom wil ons mense aanmoedig om ook op hierdie manier hul deelname aan hierdie taal te herbevestig,” sê hy. “In die Taalmuseum in die Paarl gee ons heelwat erkenning aan Abu Bakr Effendi wat in die 1800’s ʼn groot rol in die ontwikkeling van Arabies-Afrikaans en derhalwe ook Afrikaans in die Bo-Kaap gespeel het. Ons wil graag sien dat die Afrikaanse gemeenskap hierop voortbou.”
Die wenner ontvang R5 000 kontant en die twee naaswenners R2 500 elk, geborg deur die Historium Trust. Al drie wen ook ʼn gesinsjaarpermit vir die ATM wat onbeperkte besoeke vir vier mense aan die monument, museum, koffiewinkel en volmaanpieknieks insluit. Om dit aan ʼn groter gehoor bloot te stel, word die beste dertien inskrywings in die monument se Groen Galery uitgestal waar die Romeinse en Arabiese/Jawiese weergawes van dieselfde Afrikaanse tekste naas mekaar sal verskyn. Dit is ook aanlyn beskikbaar by www.taalmuseum.co.za/groen-galery.
• Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die ATM Koffiehuis bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte.