Die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en Die Erfenisstigting bespreek gedurende hul herkomsseminaar op 20 Oktober die wording en vestiging van Afrikaans as volwaardige inheemse taal. Die seminaar sal saamval met die bekendstelling van wyle prof. Christo van Rensburg se boek Van Afrikaans gepraat, asook die Engelse weergawe Finding Afrikaans, vertaal deur Marion Boers en uitgegee deur LAPA Uitgewers. Die uitstalling Afrikaans aan die praat sal ook besigtig kan word. Die sprekers by die geleentheid is prof. Hans du Plessis van NWU en dr. Donovan Lawrence van UWK, en die gespreksleier is prof. Jac Conradie van UJ. Die geleentheid word opgedra aan wyle prof. Van Rensburg.
Volgens dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR, “help gesprek oor die herkoms en eienaarskap van Afrikaans om samehorigheid onder Afrikaanssprekendes te bevorder en om wanopvattings oor die taal die nek in te slaan”.
Michael Jonas, direkteur van die ATM, is van mening dat die “agt stigterslede van die GRA ’n bemoedigende voorbeeld is van hoe gewone mense ’n verskil kan maak deur op te staan vir hul taal”. Hy sê voorts: Afrikaans verkeer vandag weer onder geweldige druk. Die ATM ondersteun debatvoering oor brandpunte in ons Afrikaanse taalgemeenskap, veral dié wat die saak van Afrikaans en al sy sprekers benadeel.”
Cecilia Kruger, uitvoerende hoof van Die Erfenisstigting, sê: “Die Erfenisstigting is gemoeid met die beskerming van ons land se tasbare erfenis, maar ook die nie-tasbare erfenis, waarvan Afrikaans die belangrikste is. Die Erfenisstigting ondersteun die handhawing, uitlewing en bevordering van Afrikaans op alle kultuur- en samelewingsvlakke.”
Die verrigtinge vind op Saterdag 20 Oktober vanaf 09:00 tot 13:00 by die Ouditsaal, Moreletaparkgemeente, Pretoria-Oos plaas. Bywoning is gratis, maar sitplekke is beperk. Bespreek dus so gou as moontlik by ria@afrikaansetaalraad.co.za om teleurstelling te voorkom.