Vier Krismis op Paarlberg

Vier Krismis op Paarlberg

95 95 people viewed this event.

…met geskenke, pieknieks en Springbokmaan by Taalmonument

Soos ’n goeie tradisie betaam, het Kersvader wéér besluit om geskenke uit te deel tydens die gewilde Desember-volmaanpiekniek by die ikoniese Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) op SATERDAG, 14 DESEMBER 2024.

ʼn Beeldskone aand met kindervermaak, speelparke en buitelugspeletjies vir die jongspan – asook ʼn sonsondergang gevolg deur ʼn volmaan en Vader Krismis – beloof om die dag in ’n onvergeetlike geleentheid te omskep. Omdat die piekniekreeks ten bate is van ‘Laat ons Lees!’, die ATM se geletterdheidsprojek, word besoekers versoek om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk.

Die hekke open reeds om 16:00 waarna kinders vanaf 17:00 tot 19:00 hul gesigte laat verf, in die tuine speel en aan kunsvlytaktiwiteite deelneem. Vir die ouer kinders is daar ook vaardigheidsaktiwiteite. Gaste word aangemoedig om die omgewing en die simboliekgelaaide beeldhouwerk te verken – ’n gratis begeleide toer vind om 18:00 plaas om als te verduidelik. Om 19:30 behoort Kersvader sy opwagting te maak om presente uit te deel, dus ouers moet asseblief hul kinders se duidelik gemerkte geskenke teen 18:30 in sy kous in die Besoekersentrum besorg.

Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek boonop ook aan die springbok (‘guchas’ in Khoi) gewy. Dit was ’n belangrike vleisbron vir die /Xam en het hulle voor groot uitdagings gestel wanneer dit gejag is. Springbokke is as magiese diere so geestelik en fisiek na aan die /Xam dat die jagters die bewegings van die diere as slae en tikke onder hul eie vel in meelewing kon voel. Plekname soos Springbok, Mofulatshepe (plek waar die springbokke wei) en Springbokvlakte wys hoe belangrik hierdie diere vir Suider-Afrikane is.

Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf piekniekmandjies by die Suikerkan via 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – dié bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou warm klere en ’n flits; genoeg parkering is beskikbaar. Die geleentheid duur tot 22:00.

 Kaartjies is slegs R40 per volwassene, R10 vir SA studente, pensioenarisse en kinders, en GRATIS vir kinders onder ses, jaarpermithouers en Drakenstein-inwoners met geldige biblioteekkaartjies. Hulle is beskikbaar by quicket.co.za of die hek. Vir inligting, kontak Stefanie Rasztabiga op 021 863 0543 of kommunikasie@taalmuseum.co.za. Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by cfah.org.za/fullmoon. Die volgende volmaanpieknieks is op 10 Januarie, 14 Februarie (op Valentynsdag) en 14 Maart in 2025.

  • Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die koffiewinkel bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte, kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.

Om te registreer, epos jou besonderhede na kommunikasie@taalmuseum.co.za

Registreer met webpos: Gmail / AOL / Yahoo / Outlook

 

Datum en tyd

2024-12-14 @ 04:00 NM to
2024-12-14 @ 10:00 NM

Deel met vriende