Vier die liefde op ’n Vrydag

Vier die liefde op ’n Vrydag

456 456 people viewed this event.

Vier die liefde op ’n VRYdag

Taalmonument verlei bemindes met Valentynspiekniek onder die volmaan

Die heelal het gepraat: vanjaar is ’n VRYdag, Valentynsdag én ’n volmaannag als op een slag. Bederf en bekoor dus jou beminde(s) tydens  ʼn heerlike someraandpiekniek op die pragtige Paarlberg op VRYDAG, 14 FEBRUARIE 2025, waar die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se personeel almal sal bederf met klein verrassing en groot harte. Boonop is hul pragtige fotoraam weer daar om hierdie dag op ’n elegante manier te verewig.

Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners en toeriste, wat veral die sonsondergang, pragtige tuine en onvergelykbare uitsig op die berge, valleie en skiereiland geniet. Gaste kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument – ʼn sonderlinge, simboliekbelaaide beeldhouwerk – van nader leer ken. ʼn Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik, vind om 18:30 plaas. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken; daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek ook gewy aan die dassie, ‘n boorling van Afrika en die Midde-Ooste. Dit is ‘n uitsonderlike dier aangesien dit die naaste lewende familielid van die veel groter Afrika-olifant is, en uitsonderlik in die sin dat sy spysverteringskanaal ‘n orgaan bevat wat net in voëls voorkom en in geen ander soogdier nie. Dit is ‘n geharde en aanpasbare dier, wat ook ‘n belangrike voedselbron vir die San en Khoi was. Die Nama het selfs ‘n gedeelte van hul jaar (wat rofweg met Maart ooreenstem) daarna vernoem, naamlik !hoaǂgais.

Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf piekniekmandjies by die Suikerkan via 082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – dié bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou warm klere en ’n flits; genoeg parkering is beskikbaar. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die ATM se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke ter ondersteuning te skenk.

Kaartjies is slegs R40 per volwassene of R10 vir SA studente, pensioenarisse en kinders; dit is beskikbaar by quicket.co.za of die hek. Die geleentheid is GRATIS vir kinders onder 6 jaar asook jaarpermithouers. Vir inligting, kontak Stefanie Rasztabiga op 021 863 0543 of kommunikasie@taalmuseum.co.za. Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by cfah.org.za/fullmoon. Die laaste volmaanpiekniek is op 14 Maart.

  • Vir inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za, teken in op die nuusbrief of volg hulle op Facebook/Instagram. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte, kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 856 1871.

 

To register for this event <strong>email your details to</strong> <a class="event_registration_email" href="mailto:kommunikasie@taalmuseum.co.za?subject=Registration%20via%20%22Vier%20die%20liefde%20op%20%E2%80%99n%20Vrydag%22%20listing%20on%20https%3A%2F%2Ftaalmuseum.co.za">kommunikasie@taalmuseum.co.za</a>

Registreer met webpos: Gmail / AOL / Yahoo / Outlook

 

Datum en tyd

2025-02-14 @ 05:00 NM to
2025-02-14 @ 10:00 NM

Deel met vriende